Helder Afrikaans – ‘n voorbeeld van rekonstruksie

Amptenaraans (ook bekend as Burokratees) is die produk van jare lange oefening in geskrewe Afrikaans op so ‘n manier dat min mense agterkom jy weet nie waaroor jy skryf nie en/of wil nie verantwoordelikheid daarvoor aanvaar nie. Met dié kitshandleiding kos dit net een oggend se oefening.

Helder Afrikaans is Afrikaans wat honderd persent kommunikeer, die eerste keer dat die teikenleser dit lees. Dit kos jare se doelbewuste slypwerk aan jou taal om dié ideaal te bereik, maar dit is die moeite werd.

Hoe rekonstrueer jy Amptenaraans?

1. Kry ‘n Amptenaraanse sin wat jy nie dadelik begryp nie:
In die lig van die feitetoestand t.o.v. die onvermybare onsekere status rakende die programmeringsprosedures van die rekenaarstelsel op hierdie tydstip, is ‘n groot aantal gebeurlikheidsprioriteite sorgvuldig in oorweging geneem en daar is huidig tentatief aanvaar om op tydelike basis tot nadere kennisgewing op ‘n later datum sodanige projekprosesse wat onessensieel blyk te wees vir die snelle nakoming van verpligtinge, voorlopig tot terminasie te bring.

2. Konkretiseer die abstraksies:
In die lig van die onsekere status rakende die programmering van die rekenaar op hierdie tydstip, is een voorstel aangeneem, nl. om voorlopig die projek tot terminasie te bring.

3. Maak die moeilike voorsetsels makliker, en so ook die gepaardgaande abstraksies:
Vanweë die huidige onsekere status van die programmeering van die rekenaar, is een voorstel aangeneem, nl. om voorlopig die projek tot terminasie te bring.

4. Maak passiewe sinne so ver moontlik aktief:
Ons het die voorstel aangeneem, nl. om voorlopig die projek tot terminasie te bring, omdat ons tans onseker is oor die programmeering van die rekenaar.

5. Vervang lang omskrywings deur kort sinonieme woorde en woordgroepe:
Ons het besluit om voorlopig die projek te beëindig, omdat ons onseker is oor die programmering van die rekenaar.

6. Gebruik jou gesonde verstand – beredeneer wat jy moet sê sonder om minder of meer te kenne te gee, en aanvaar verantwoordelikheid daarvoor:
Ek het besluit om die projek te beëindig, omdat niemand weet hoe om die rekenaar hiervoor te programmeer nie.

Oorspronklik gepubliseer in die boek Kwinksinnig: Taalskertse deur Johan Combrink met illustrasies deur Piet Grobler.
Uitgewers: Tafelberg, 1998

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.