Herfsskool weer met trots in 2013 aangebied

Meer as mondig, maar steeds immergroen – dit is die Herfsskool van die ATKV-Skryfskool van die NWU.

Jaarliks vind dosyne opkomende skrywers hier ’n stewige wegspringplek vir hulle loopbane as skrywers en digters. Van 18-22 Maart 2013 maak ons weer so – maak ons weer die woorde die hof. Bekroonde skrywers wat ook boeiende geselsers is, kom gee inspirasie en wenke aan dié wat die leer wil klim as prosaskrywers: Sonja Loots (ook voorsitter van PEN Afrikaans), Franci Greyling, Ilse Salzwedel en Anastasia de Vries (ook boekeredakteur van Rapport).

Hans du Plessis, veelsydige skrywer en tot twee jaar gelede die direkteur van die ATKV-Skryfskool, sal die vuurtjie vir skrywers in alle genres aansteek met ’n praatjie oor die skryfproses.

Name soos dié van Ilse Salzwedel en Anastasia de Vries getuig dat 2013 se Herfsskool ook die kollig wil laat val op joernalistieke (vryskut-) skryfwerk, met Willem Kempen van Beeld wat as werkswinkel-inleier die koers gaan aandui. Die skryf van radiodramas is ’n derde fokuspunt – en die deurwinterde Margot Luyt sal die riglyne vir goeie hoorspelwerk kom uitlê.

Vir voornemende digters is daar die goeie nuus dat T.T. Cloete, een van die grootste lewende Afrikaanse digters, ingestem het om wenke te kom gee oor die beoefening van die verskuns.

Die hartklop van die Herfsskool was egter nog altyd die werkwinkels waartydens Herfsskoolgangers kan slyp aan die pennevrugte wat hulle by inskrywing moet voorlê. Willem Kempen en Margot Luyt se name is genoem as werkswinkelleiers in joernalistiek en radiodrama; die gesoute kenners Franci Greyling (prosa), en Bernard Odendaal (poësie), beide dosente in Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit, sal die leiding by die ander twee werkswinkelgroepe neem.

’n Ander sterkpunt van die Herfsskool was nog altyd die eerstehandse wenke wat uitgewers kom gee. In 2013 kom maak Maritha Snyman (Lapa), Nicol Stassen (Protea) en Etienne Bloemhof (NB-uitgewers) weer so. Leti Kleyn, mede-samesteller van Die Afrikaanse skryfgids wat in verlede jaar verskyn het, kom deel verdere geheime van die skryf- en uitgeewêreld met kursusgangers.

Dan kom ook die rol en plek van kritici ter sprake. Thys Human, Afrikaanse literator van die Noordwes-Universiteit en boekresensent, kom gesels oor die kritikus as vennoot van die skrywer.

Stel jy belang om die Herfsskool by te woon? Kom in aanraking met Kobie van Aswegen (sekretaresse) van die ATKV-Skryfskool. Stuur ‘n e-pos aan [email protected], of skakel haar by 018 299 1783 of stuur ‘n faks na 018 299 1784. Skakel met Bernard Odendaal, direkteur van die ATKV-Skryfskool vir onderhoude. Sy e-posadres is [email protected] of jy kan hom skakel by 018 299 1782 of vir hom ‘n faks stuur na 018 299 1784.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.