Historikus met gesogte Jan H Maraisprys vereer

Prof Fransjohan Pretorius (Foto: Afrikaans.com)

Die Jan H Maraisprys vir ʼn uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal word vanjaar toegeken aan die historikus prof. Fransjohan Pretorius van Pretoria.

Die prysgeld van R500 000 as erkenning vir sy lewenstaak ten bate van akademiese Afrikaans sal op 29 Mei 2019 by ʼn funksie op Stellenbosch aan hom oorhandig word. Prof Andreas van Wyk, oud-rektor van die Universiteit Stellenbosch en voorsitter van die keurkomitee, het dié besluit bekend gemaak.

Prof. Pretorius, een Suid-Afrika se bekendste historici, is in 1949 in Johannesburg gebore. Hy is ʼn oud-Tukkie wat nagraads verder aan die Rijksuniversiteit Leiden in Nederland studeer en sy doktorsgraad in 1989 aan Unisa behaal het.

Hy het sy loopbaan as akademikus begin aan sy alma mater, waarheen hy in 2014 teruggekeer het ná twaalf jaar in die departement Geskiedenis van Unisa. Aan die einde van Junie 2014 het hy met amptelike pensioen by die Universiteit van Pretoria uitgetree.

Fransjohan Pretorius het oor die afgelope 45 jaar honderde publikasies geskryf, van wetenskaplike artikels tot bydraes in koerante. Hy tree ook gereeld in radioprogramme op. Sy werk oor kommandolewe tydens die Anglo-Boereoorlog word internasionaal erken as een van die belangrikste ondersoeke na daardie pynlike tydperk van ons land se geskiedenis. Verskroeide Aarde, die ryk geïllustreerde boek wat daarop gebaseer is en ook in Engels verskyn het, het breë aandag getrek. Hy word wêreldwyd as ʼn deskundige oor daardie laaste fase van Britse imperiale uitbreiding erken.

Vir sy werk is prof. Pretorius deur die Nasionale Navorsingstigting as ʼn B1-navorser gegradeer, dit wil sê as ’n navorser wat internasionale erkenning geniet en beskou word as ʼn vooraanstaande internasionale kenner van die gebied.

In 1998 het hy die Stalsprys vir Historiese Wetenskappe van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang en in 2001 ʼn prestigeprys van die FAK.

“Fanjan” Pretorius is getroud met Laurette, afgetrede professor in Rekenaarwetenskap aan Unisa se skool vir Nagraadse Studie. Die egpaar het ʼn dogter en twee seuns.

Die jaarlikse Jan H Maraisprys is in 2015 geskep deur ʼn besluit van Het Jan Marais Nationale Fonds, Naspers en die Universiteit Stellenbosch. Al drie instellings het hulle ontstaan te danke aan die versiende steun van Johannes Henoch Marais (1860-1915) van Stellenbosch wat saam met sy broers in die 1870’s hulle fortuin op die Kimberleyse Diamantveld gemaak het. Jannie Marais was ʼn groot ondersteuner van Afrikaans as ʼn akademiese en literêre taal.

Die prys vir ʼn lewensbydrae tot akademiese Afrikaans word geadministreer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die keurkomitee van vooraanstaande akademici uit verskillende dissiplines het vanjaar bestaan uit proff Andreas van Wyk (Stellenbosch), Albert Grundlingh (Stellenbosch), Christof Heyns (Pretoria en Genève), Debra Meyer (Johannesburg), Piet Steyn (Stellenbosch) en dr Johan van Zyl (vroeër van Sanlam).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Credo Videre ·

Wat min mense van prof. Pretorius weet ,is dat hy op sy dag as n ingeskrewe leerling by Affies , boonop die Suid-Afrikaanse middel-afstand skole-kampion was.

Toergids ·

Baie geluk Prof, ek sal u ltyd dankbaar wees vir die inspirasie

Peet Schabort ·

Ek het die voorreg gehad om prof. Fransjohan ‘n paar keer te ontmoet met veral die ABO. Wat by my werklik ‘n indruk gemaak was met die 100-jarige herdenking van die Slag van Spioenkop. Ek was deel van ‘n groep wat die dag saam met hom en die befaamde oom Reg Ströh Spioenkop platgeloop het. Oom Reg was aan die woord met weergawes van wat daar gebeur het n.a.v. oudstryders wat hy (oom Reg) daar terplaatse gehad het. Hulle het in detail aan oom Reg uitgewys waar en hoe die slag verloop het. Nou wat by my neerslag gevind het is die wyse van hoe aandagtig prof. Fransjohan geluister het na oom Reg se vertelling. Na reeds vele jare (30plus in 2000) se navorsing oor die ABO was hy steeds bereid om te luister en te leer van ander. Daar het ek vir hom GROOT respek gekry.
Veels geluk Prof., u is die prys waardig.

alwyn burger ·

Welverdiend FJ. What ek graag sou wou lees is pogings van ons gevorderde studente in Geskiedenis om Apartheid te “historiseer”. Waar daar objektief ondersoek gedoen word na oorsaaklikheid. Dr Pretorius ,Dr Giliomee ,Dr. Visser, Dr L. Scholtz , Dr. Nasson ??. Ek sien Dr. Lindie Sholtz erken daren huiwerig dat die Afrikaner “grootliks” verantwoordelik is vir Apartheid. Wie dan nog Dr?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.