Hoe leer ʼn kind liefde vir lees aan?

Boekejol

Keina Swart (regs) saam medeskrywer, Jeanette Ferreira.

Dié gesprek het baie kommentaar uitgelok tydens ʼn boekbespreking op vanjaar se Boekejolfees. Die skrywer Keina Swart, wat onlangs haar eerste jeugboek, Bloujaar, gepubliseer het, het dié onderwerp met Ilze Salzwedel in diepte bespreek.

Ilze, wat as gesprekleier opgetree het, sê daar is soms die persepsie dat ʼn mens ʼn sekere soort boek moet lees voordat jy as ʼn “regte leser” beskou kan word. “Ons moet ophou om snobisties te wees oor wat ons kinders lees. Solank hulle net lees, dit is die belangrikste.”

Keina het dié stelling beaam en sê as jou kind van strokiesprente hou of selfs die internet gebruik om te lees, is dit ook wonderlik. Sy sê ook dat ʼn liefde vir lees op ʼn jong ouderdom by kinders gekweek moet word. “Dis baie moeilik om jou kinders lief te maak vir lees as hulle eers ouer is. Dis nie onmoontlik nie, maar dis baie moeilik.”

Sy vertel hoe sy haar eie kinders op baie jong ouderdom begin blootstel het aan boeke en woorde en dat haar dogters baie lief is vir lees. “My seun moet ek partykeer betaal om te lees, maar hy lees ook.”

Die gehoor het lekker gelag want hulle meen ook dat seuns dit soms moeiliker vind om lief te raak vir lees. Een van die vroue wat die bespreking bygewoon het, het vertel hoe sy en haar man dié moeilike taak kon regkry. “Toe my twee seuns nog klein was het my man saam met hulle gebad en FA Venter se boeke vir hulle voorgelees. Hulle albei is vandag nog lief vir lees.”

ʼn Onderwyseres het ook vertel dat sy vir haar leerlinge soms voorlees, en die woordeboek gebruik vir oulike woordspeletjies. “Die kinders is mal daaroor!” Die belangrikheid van lees en leermetodes is ook bespreek en sommige het genoem dat die ou manier om kinders te leer lees, weer teruggebring moet word in skole.

Daar is heelwat ervarings gedeel tydens die bespreking en dit is benadruk dat ʼn liefde vir lees oorgedra kan word en dat dié taak by ouers lê.

Met die druk waaronder vandag se kind verkeer is lees sekerlik een van die beste uitlaatkleppe asook ʼn gesonde manier van ontvlugting. Elke boekwurm weet dat wanneer jy in jou boeke-wêreld is, die regte wêreld se probleme nie meer so groot lyk nie.

Wenke om jou kind lief te maak vir lees:

  • Begin om jou kinders op ʼn jong ouderdom bloot te stel aan boeke.
  • Ouers moet ook self lees – dit stel ʼn goeie voorbeeld.
  • Gebruik meer tyd wat aan televisie afgestaan word vir lees.
  • Doen moeite om ʼn boek te kry waarvan jou kind sal hou.
  • Hou boekbesprekings vir die hele gesin.
  • Lees gereeld vir jou kinders voor.
  • Speel woordspeletjies.
  • Sakgeld vir elke boek wat gelees is kan ook as motivering gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leendert van Oostrum ·

Goeie artikel, en belangrike raad,om die volgende redes:

Soos Carlotte Mason ons vermaan het – die kos van die brein is idees. Dit is wat die denke (en die brein self) laat groei en ontwikkel. Boeke lees (en NIE TV nie) is die eenvoudigste en vrugbaarste manier om vir die kind ‘n omgewing te skep wat ryk is aan idees.

Die is daarom VEEL belangriker dat ouers (en onderwysers) vir kinders voorlees as dat die kinders self lees. Trouens, kinders vir wie voorgelees word sal feitlik sonder enige aansporing self begin lees wanneer hulle fisies en verstandelik gereed is vir daardie taak.

(Let wel – alle kinders is NIE op dieselfde ouderdom gereed om te begin lees nie. Veral seuns begin dikwels later. Moore&Moore het bevind dat baie kinders eers op elf jaar gereed is om te begin lees. En dat, as hulle nie voor dit gedruk word om te lees nie, het hulle teen dertien jaar nie net die portuurgroep ingehaal in leesvermoë nie, maar hulle verbygesteek. Onlangse navorsing uit Nederland bevind blykbaar dat een van die belangrikste oorsake van disleksie gesoek moet word in die praktyk om kinders te dwing om te leer lees voordat hulle ryp is daarvoor.)

En daarom is dit juis vir kinders wat moeilik lees van die grootste belang dat daar vir hulle voorgelees word – sodat hulle nie ontneem word van ‘n vrugbare wêreld van idees nie, en die denke kan bly ontwikkel.

My aanbeveling aan ouers is om ten minste een uur per dag vir die kinders te lees – en om by geboorte te begin.

Windhond ·

Die berig lees “Hoe leer ‘n kind liefde vir lees aan”
Kom ons wees nou erenstig vir 60 sekondes en probeer eers die volgende vraag beantwoord “Hoekom kan kinder in graad 10 nie lees of skry nie maar wapens en dagga is aan die orde van die dag op die speelgrond?” As julle dit kan beantwoord en herstel sal die liefde vir skoolgaan en lees terugkeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.