Hoe lyk jóú Afrikaans? Derde ronde wenners bekend gemaak

Afrikaans.com

Afrikaans.com

Die finale ronde van die “Hoe lyk jóú Afrikaans en WEN?”-kompetisie is verby.

Mense van heinde en ver het vyf maande lank gedeel in die mooi en lekker van Afrikaans en die ronde 3-deelnemers se beeldryke bydraes het beoordelaars behoorlik laat bontstaan en kopkrap, verduidelik Ingrid Erlank, redakteur van Afrikaans.com.

“Om wenners te kies uit hierdie raakvat rykdom van hartsgedagtes was ʼn stewige uitdaging. Woorde soos “my roemtaal… my wyse-van-leeftaal… my komvandaan… my hiervandaan…” het die liefde en passie vir Afrikaans op soveel vlakke verwoord,” het sy bygevoeg.

Anette Jansen, wat ook ingeskryf het, sê: “Sy is my taal: my proe-taal; Sy woeker met my gees en gly oor my tong; Sy polkadraai en swaai; Sy ontdek en verryk; Sy is diepte; Sy is kleur; Sy is gister en môre…” En so uit die perd se bek… Henning van Aswegen skryf: “My Afrikaans is nie awesome nie, liewers bevonk en lewendig en dinamies-kreatief, ook nie amazing of cool nie, maar tongrol-lekker.”

Stem vir jou gunstelinge uit die drie rondes en help om ʼn waardige wenner te kies (sien die uitslag van ronde 1 en ronde 2). Onthou, die groot wenners word op 2 Desember bekendgemaak sodat daardie R10 000 uiteindelik ’n beursie kan kry!

Besoek die wennersblad op Afrikaans.com

Ontmoet die wenners van ronde 3:

Beste teks: Kim Meissenheimer – Afrikaans is in my bloed:

Afrikaans is my trots, my rots en my gunsteling taal in die wêreld
Dit is die Naas Botha wat my rugbyspan laat wen
Die Hansie Cronje wat die bal in die ligte laat swem
Dit is die Wayde van Niekerk van my Olimpiese spele
Dit is die hemel op my Tafelberg se dele
Dit is die biltong en bier
Rondom ʼn braaivleisvuur
Dit is die vuur wat in my knetter en die Karoo se kaktus
Dit is die rieldans op die Namakwalandse vlaktes
Dit is die taal waarin ek my kinders gaan grootmaak.
Dit is die taal wat tot in my binneste raak
Dit is die blou van my hemel, die diepte van my see,
Dit is my ewige gebergte waar my kranse antwoord gee…
Dit is die taal waarin ek lag, waarin ek huil en waarin ek bid.
Ek dink in Afrikaans
Ek droom in Afrikaans
Dit stroom na my mond en vlieg soos ʼn duisend vuurvliegies oor my lippe
Dit klim en klouter in my soos bobbejaan se kind op die klippe
Dit is die taal van my hart, en die lied van my siel,
die herinnering van my voorouers en die stem van my toekoms.
Dit is my Afrikaans, My taal, My trots

 

Drakensberg Foto: Linda du Plessis (Afrikaans.com)

Drakensberg Foto: Linda du Plessis (Afrikaans.com)

Beste foto: Linda du Plessis – Drakensberge in ons land Suid-Afrika

ek sien my taal Afrikaans in ons land
in elke hoek van wes na oos elke kant
Afrikaans in stede, dorpe, platteland, townships, ras en kleur
berge dale valleie vlaktes gekoester in inheemse geur
ons natuur ons diere ons landskap
berge klim, motorry, vlieg of net stap
DRAKENSBERGE
waar ek roep in Afrikaans en jy ‘n antwoord ego
plat tafelhorison of spits na bo
boomwortels vir oorlewing uit rotse trou
rotse en kranse heen en weer kreukelvou
na benede val vingertjies waterval
en tuiste skenk vir menigtal
dier plant en insek en reptiel
waar voorvaders met ossewawiel
die groot trek het oor jou ‘n nuwe tuiste gesoek
vasgelê in verskeie Geskiedenisboek
winter in sneeukleed toegedraai
lente geure van blomme verfraai
somer groen wat na die hemel reik
herfs kleureprag wat oor vlaktes kyk
met die wind wat deur bome fluit
wasem teen my huisie se ruit
en die rokie uit my kaggel die dag nagsê
ek in die tevrede knoesig warmte van jou arms gaan lê

 

Beste video: Ilka Steyn – Die Afrikaanse alfabet

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.