Hoe mooi is dit wanneer broers in liefde saamwoon

Lank, lank gelede het twee broers op ‘n familieplaas saam gewoon en gewerk. Die een was getroud en het kinders gehad. Die ander een was ongetroud. Hulle het elke oes en al die wins altyd gelykop tussen hulle verdeel.

Eendag dink die ongetroude broer: “Dit is net nie reg dat ons die oeste en wins gelykop verdeel nie. Ek is alleen en my behoeftes is min. My broer het ‘n vrou en kinders om voor te sorg.” Daarom besluit hy om in die middel van elke nag ‘n sak van sý graan in sy broer se graanhouer te gaan gooi.

Intussen, onbewus van sy broer se besluit, kry sy getroude broer dieselfde gedagte: “Dit is net nie reg dat ons alles gelykop verdeel nie. ek het soveel seëninge van God ontvang – my vrou en my kinders. My broer het niemand nie – hy is so alleen.” Daarom besluit hy ook om in die middel van elke nag ‘n sak van sý graan in sy ongetroude broer se koringhouer te gaan stort.

Albei broers het gewonder hoekom hulle graan dan nooit minder word nie. Maar een nag gebeur dit toe dat hulle op presies dieselfde tyd hulle huise verlaat. In die donkerte loop hulle in mekaar vas – elkeen met ‘n sak koring op die rug. Albei was verbaas, maar toe besef hulle wat al die tyd aan die gang was. Hulle laat val die sakke en omhels mekaar.

Wees lief vir jou familie. Leef in vrede met hulle. Maar meer nog, omdat jy ‘n kind van Jesus is, is jy ‘n deel van ‘n groter familie – die familie van God. Daarom moet jy vir alle ander mense omgee. Dit maak God se hart bly wanneer ons dit doen.

Psalm 133
Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon!
Dit is soos reukolie wat van die kop af in die baard afloop,
die baard van Aäron, af tot by die soom van sy klere.
Dit is soos die dou van Hermonberg wat op die berge by Sion val.
Waar broers so saamwoon, skenk die Here sy seën: ‘n lang, lang lewe.

Oorspronklik gepubliseer in 30 Stories vir jong-ore deur Ewald van Rensburg en uitgegee deur Lux Verbi, 1998.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.