Hoekom ek (onder meer) Afrikaans op 14 Augustus gaan vier

Deur dr. Annelise de Vries

Annelise de Vries.

Die aard van taal is ’n omstrede onderwerp. Taalkundiges en filosowe argumenteer al eeue lank oor die vraag wat taal werklik behels.

Randy Allen Harris, taalkundige, vertel in sy boek, The Linguistic Wars, die verhaal van ernstige skeuring gedurende die sestiger- en sewentigerjare wat die geledere van die taalkunde in talle aspekte van die bestudering van taal verdeel het. Daar word in hierdie boek anekdotes (kort, prettige stories) meegedeel van hoe taalkundiges mekaar by konferensies verskree en amper te lyf gegaan het omdat hulle net nie oor sekere taalkundige benaderings en teorieë kon saamstem nie.

Die geskiedenis leer ons dat dit nie net taalkundiges is wat onder mekaar oor taal stry nie. Talle gevalle is opgeteken waar konflik oor taal tussen verskillende taalgemeenskappe ontstaan het wat in noue kontak met mekaar was. In die sewentigerjare het die Vlaamse taalgemeenskap in Schaarbeek, ʼn voorstad van Brussel, geprotesteer omdat dié stad se burgemeester geweier het om Nederlandstalige en Franstalige inwoners op gelyke voet te behandel. In die Oostenrykse deelstaat Karinthië het konflik ontstaan oor die gebruik van Sloweens op straatnaamborde, en taalkonflik in Quebec, ʼn provinsie van Kanada, het gepaardgegaan met terroriste-optrede van lede van die Front de libération du Québec, ʼn militante groep wat ten doel gehad het om ʼn onafhanklike Quebec op ʼn gewelddadige wyse tot stand te bring.

Hoe dit ook al sy, taal bly wêreldwyd – en veral op eie bodem – ʼn brandende kwessie. Dit dui daarop dat taal só belangrik geag word dat sprekers bereid is om hulle stemme dik te maak, slaags te raak en in sommige gevalle selfs die wapen op te neem.

Daar kan wyd geargumenteer en gespekuleer word oor hoekom sprekers soveel waarde aan taal heg, maar ek vestig graag jou aandag op die volgende waarnemings oor taal:

  • Louis Hjelmslev, ʼn Deense taalkundige, skryf dat taal nie beskou moet word as ’n konglomeraat van nielinguistiese (byvoorbeeld fisiese, fisiologiese, logiese en sosiologiese) verskynsels nie, maar eerder as ’n selfbeskikkende totaliteit met ’n unieke (sui generis-) struktuur.
  • Ronald Macaulay, Skotse taalkundige, verwys na sewe wyses waarop taal gedefinieer kan word: 1) taal as betekenis, 2) taal as klanke, 3) taal as vorm, 4) taal as kommunikasie, 5) taal as identiteit, 6) taal as geskiedenis, en 7) taal as simboliek.
  • Verder verdeel Li Wei, gerekende Britse taalwetenskaplike van Mantsjoe-Chinese afkoms, taal in drie kategorieë: 1) taal as ’n bepaalde verteenwoordigende stelsel wat op biologies gegronde taalvermoë gefundeerd is, 2) taal as ’n komplekse en histories ontwikkelde patroon van strukture, en 3) taal as sosiale praktyk en ’n kultuurbelaaide waardestelsel.

Taal is in wese multidimensioneel en kan nie bloot tot die kommunikatiewe funksie daarvan afgemaak word nie. As ons vir ʼn oomblik by Hjelmslev se beskrywing van taal as ʼn selfbeskikkende totaliteit, by Macaulay se verwysings na taal as identiteit, geskiedenis en simboliek, en Wei se opmerking oor taal as die vergestalting van ʼn kultuurbelaaide waardestelsel stilstaan, besef ʼn mens hoekom sprekers oor die eeue en die aarde heen die ontkenning of verskraling (op verskillende vlakke) van ʼn spesifieke taal as ʼn misdryf beskou. Jou volledige menswees word deur jou taal vergestalt. John Ciardi, gerekende Amerikaanse digter, sluit hierby aan as hy sê: Vertel my hoeveel ʼn nasie van sy eie taal(e) weet, en ek sal jou vertel hoeveel die nasie van sy eie identiteit weet. Jy praat nie net jou taal nie, jou taal praat jou.

Daarom hoef jy nie skaam te wees om jou taal te koester en te bevorder nie. Dit is die rede waarom ek op 14 Augustus Afrikaans gedenk en waarom ons nooit mag “jammer” sê wanneer ons instellings bou vir Afrikaans om te gedy nie.

Ons is nie geïsoleerd in ons strewe om Afrikaans in sy volle omvang te laat floreer nie. Sprekers oor die wêreld heen deel ons sentiment en het self al meer uiterste stappe gedoen om hulle tale te laat geld. Dit mag net nooit ten koste van ander tale en taalgemeenskappe wees nie.

  • Annelise de Vries is die vakhoof van tale by die Fakulteit Opvoedkunde aan Akademia.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Afrikaans, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jasper

Ek gaan by ‘n Afrikaanse restaurant met ‘n Afrikaanse spyskaart en ‘n afrikaans sprekende kelner eet en daarna gaan ek ‘n paar skote skiet by die skietbaan met ‘n egte Denel geweer die LM6.Ek dink as ek by die huis kom sal ek boere koffie en ‘n koeksister eet en ‘n paar bladsye lees uit die boek siener van Rensburg.