Hoekom moedertaalonderwys so belangrik is vir almal in Suid-Afrika

marisa-haasbroek

Marisa Haasbroek. Foto: Tuisskool-in-afrikaans.teachable.com

Deur Marisa Haasbroek

Baie mense voel Afrikaanse kinders moet liewer so gou as moontlik in Engels begin leer, want alles by die universiteit gaan buitendien in Engels wees. Begin hulle werk, gaan hulle ook alles in Engels moet doen. Ons moet ons dus nie te veel ontstel dat die getal Afrikaanse skole so afneem nie. Is hulle reg?

Laat ek begin deur te erken Engels is inderdaad ’n hoëstatustaal. Niemand is meer bewus daarvan as Afrikaanse tieners nie. Hoekom peper hulle so graag hul taal met Engelse woorde? Vir dieselfde rede waarom Julius Caesar se sterwenswoorde in Grieks was. Wag ʼn bietjie. Wat het ’n Romeinse keiser met ’n Afrikaanse tiener te doen?

Nes ’n hedendaagse tiener, was Julius Caesar baie beeldbewus. Sy eerste belangrike werk in Rome was om die Spele met die gladiatore, die honger leeus en die ongelukkige gevangenes te organiseer om die massas te vermaak. Deur die Spele so skouspelagtig as moontlik te maak, het hy sy loopbaan as generaal en uiteindelik as keiser lanseer. As keiser het hy glo baie daarvan gehou om die lourierkrans te dra, omdat dit sy bles so netjies versteek het.

In Julius se tyd was Grieks die taal wat in tel was en nie “simpel” Latyn nie. Selfs in sy sterwensoomblikke was Julius Caesar steeds bewus van sy beeld. Toe hy sien sy vriend Brutus is deel van die komplot om hom om die lewe te bring, het hy daarom in Grieks uitgeroep: “Jý ook, my vriend?”

Vandag se tieners, met hul ingeboude radar vir status, kan aanvoel dat Engels baie belangrik is. Dis immers in Engels wat die wêreld op soek is na ’n kuur vir kanker. Dis in Engels wat wetenskaplikes probeer om die mensdom se DNS te ontrafel. En selfone raak slimmer … in Engels.

Na my mening is daar twee redes waarom ons nie soos tieners mag redeneer en slegs die hoëstatustaal van ons dag instandhou nie. Die eerste rede is omdat die geskiedenis wys meertaligheid bring meer voorspoed. Die tweede rede het met die navorsing wat al oor moedertaal en moedertaalonderwys gedoen is, te make.

Die geskiedenis wys meertaligheid bring vooruitgang

Die mensdom se geskiedenis wys duidelik universele tale lei tot stagnasie, terwyl verskeie nasionale tale vooruitgang bevorder. Nadat Julius en sy Romeinse trawante gekom, gesien en verower het, het die taal waarvoor hy sy neus opgetrek het, Latyn, soos ʼn hedendaagse stofsuier oor Europa gevee. Honderde plaaslike tale is ingesluk. Geleerdes en geletterdes wou nét Latyn praat. Die gevolg? Die Donker Middeleeue.

Eers nadat hulle Latyn versaak het en weer die omgangstale begin praat het, het die nasies van moderne Europa uit die stof opgestaan. Luther het die Bybel in alledaagse Duits vertaal en Guthenberg het één doel voor oë gehad: kry soveel as moontlik van daardie Duitse Bybels by die gewone mense.

Die Italiaanse Renaissance het eers begin toe Dante besluit het om in Italiaans, eerder as in Latyn, te skryf. Engels se eie renaissance het ʼn groot hupstoot van Chaucer gekry, wat nederige Engels bo die Frans van die elite verkies het.

Monokulture is baie gevaarlik. Vra maar vir die miljoen Iere wat dood is in die aartappelhongersnood tussen 1845 en 1852. Ander faktore het ʼn rol gespeel in dié tragedie, maar die Iere het net één soort gewas geplant en ’n enkele siekte het die hele aartappeloes vernietig. ’n Gebrek aan verskeidenheid is nie net sleg vir plante nie, maar ook vir tale.

Latyn het nie altyd hoë status gehad nie. Engels ook nie. In die Suid-Afrika van die een en twintigste eeu moet ons in ons taalkeuses verby kortstondige status kan kyk. Ons moet die wysheid hê om in te sien dat ’n verskeidenheid tale ’n bate is, wat ons land moet koester en uitbou.

Navorsing wys hoe belangrik die moedertaal vir ontwikkeling is

Nou vir die tweede rede waarom ons meer tale in stand moet hou: die navorsing wat al oor moedertaal gedoen is. Ek spring weg met internasionale navorsing hieroor, voordat ek gaan afsluit met ʼn studie van ons eie departement van hoër onderwys en opleiding.

Moontlik vanweë hul eie sensitiewe taalkwessies, doen veral die Kanadese baie navorsing oor moedertaal. So het hulle byvoorbeeld bevind dat mens se moedertaal so belangrik is, dat selfs net ʼn kort rukkie se blootstelling daaraan, permanente spore op jou brein laat. Daarna is jou brein as’t ware bedraad om daardie spesifieke taal se klankpatrone te kan eien.

Hoe weet ons dit? Navorsers het ʼn groep Chinese kinders wat deur Franssprekende Kanadese aangeneem is, bestudeer. Die kinders was tot op omtrent die ouderdom van twaalf maande blootgestel aan Chinees. Daarna is hulle in Frans grootgemaak.

Toe die navorsers hulle as tieners getoets het, kon hulle met breinskanderings sien hoe dié kinders se breinaktiwiteit toegeneem as hulle Chineesagtige klanke gehoor het. Dit het nie met die kontrolegroep, wat nooit Chinees gehoor het, gebeur nie.

Nog ʼn insiggewende feit het na vore gekom nadat navorsers die breinaktiwiteit van mense met MRI-skanderings dopgehou het. Die plek in jou brein waar jou eerste taalverwerwing plaasvind, is in ʼn ander deel van jou brein as waar jy ʼn tweede taal verwerf of selfs jou moedertaal ontleed. Die sentrum van die brein waar jy heel eerste taal aanleer, verwerk dinge vinniger as die deel van die brein waar tweedetaalverwerwing plaasvind.

Taalverwerwing en die gebruik van die moedertaal is iets onbewus – die gebruiker hoef nie eens daaroor te dink nie. Die aanleer van ʼn tweede taal moet jy bewustelik doen en as jy in ʼn tweede taal praat, moet jy die heeltyd dink wat jy sê.

Dis hoekom ʼn mens nie jou kinders deur die medium van ʼn tweede taal moet leer terwyl hulle nog besig is om die tweede taal aan te leer nie. Doen jy dit, laat jy jou kinders twee keer so hard werk. Nie alleen moet hulle nog die tweede taal onder die knie kry nie, hulle moet ook die nuwe leerstof bemeester.

En dan die insiggewendste bevinding: hoe beter iemand se moedertaal ontwikkel is, hoe makliker leer hy of sy ʼn tweede taal aan. Weer eens beroep ek my op ʼn Kanadese studie waar groepe dowe en horende persone met mekaar vergelyk is. Dis wat die navorsers bevind het:

  • Dowe en horende mense wat óf ʼn gesproke óf ʼn gebaretaal vroeg in hul lewe leer ken het, het Engels, hul tweede taal, goed leer praat.
  • Dowe persone wat eers later in hul lewe met die konsep van taal te doen gekry het, het met tweedetaal-Engels bly sukkel.

Hieruit kan ons dus aflei dat hoe beter jou kinders se moedertaal ontwikkel is, hoe beter gaan hulle in ʼn tweede taal vaar. Om die waarheid te sê, hoe beter gaan hulle in al hul vakke vaar.

En nou vir daardie beloofde navorsing oor moedertaalonderwys op eie bodem. Kyk ʼn bietjie na die resultate in ʼn groot eksamen wat in verskeie provinsies afgelê is, wat die departement van hoër onderwys en opleiding in 2016 gepubliseer het.

moedertaalonderrig-marisa-haasbroek-meningstuk

Grafika: Verskaf.

Die meeste leerders het verkies om dié eksamen in Engels te skryf. As hulle die eksamen in Engels skryf, kom omtrent net die helfte van hulle deur. Skryf die leerders egter die eksamen in hul moedertaal, styg die suksespersentasie by al drie taalgroepe wat nagevors is, aansienlik, soos wat mens op die grafiek kan sien.

Dié eksamen is in graad 9 afgelê, met ander woorde die leerders was omtrent so veertien, vyftien jaar oud. Selfs op daardie ouderdom het hulle steeds aansienlik beter in hul moedertaal presteer as in die hoëstatustaal van ons tyd. En met hierdie enkele grafiek word al die Kanadese navorsing hierbo in ons eie land bevestig.

Daarom kan ek onomwonde sê – as jul huistaal Afrikaans is, hoort jou kinders in ʼn Afrikaanse skool.

In ʼn neutedop: Ja, ons het goeie rede om omgekrap te wees omdat daar minder Afrikaanse skole is. Ons het immers geskiedenis en wetenskaplike navorsing wat ons ontsteltenis regverdig.

  • Haasbroek is ‘n Afrikaanse skryfster en ʼn tuisskoolma, wat graag oor Afrikaans as onderrigtaal blog en skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

26 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gerhardus Petrus Padda

Dankie Marisa, dit was baie insiggewend gewees. Jou kinders is baie gelukkig om jou as onderwyser te hê.

Hans

Hoop die ATKV se bestuur lees ook hierdie insiggewende artikel

Mike

ag nee wat leer almal in engels in my bedryf is my werk afrikaans maar ek praat heeldag engels,met klieente is al wat hulle verstaan…….

Afrikaans is n moet!!!

Moedertaalonderwys is belangrik. Stem 100% saam. Gaan doen n bietjie ondersoek by al die swart taal laerskoke,al hul boeke is in hul swart taal,hul leer in hul eie taal en engels. Hoekom kan die Afrikaner nie ook in hul eie taal leer en ook in engels? Aai,die ou regering met sy wette en regulasies,hulle is so aspris en jaloers op ons mooi Afrikaner taal. Afrikaans leef voort!!!!! Sterkte

Eish

Die insiggewenste artikel die jaar op Maroela media! Keurige aanbieding van nagevorste feite wat enige Afrikaanse persoon kan verstaan. Uitstekende gedoen Marisa! Mag die evolusie aanhangers tog leer om hul ” feite” op die wyse aan te bied! Die dame verdien die hoogste eerbewys wat die land kan voortbring! Uitstekend!