Hope idiomepret en plesier met dié speletjie

ouerskap-en-rolmodelle

Foto ter illustrasie (Foto: Playbuzz.com)

“Jy gaan beslis nie ʼn kat in die sak koop as jy dié bordspeletjie aanskaf nie,” sê ds. Schalk Strauss, publikasiehoof van Lig in Duisternis Uitgewers, oor dié uitgewer se splinternuwe bordspeletjie, Idiomepret, wat pas verskyn het.

“Vir sommige spelers mag dit aan die begin dalk Grieks wees, maar moenie te gou handdoek ingooi nie. Aanhouer wen en kort voor lank sal jy dalk nog koning kraai,” skerts Strauss.

Podiumpret, wat die bordspeletjie ontwikkel het, wil met die 144 bevestigde spreekwoorde en idiome wat hierin voorkom, wys hoe Afrikaans, hetsy as moedertaal of addisionele taal, inderdaad nog springlewendig is en op allerlei maniere geniet kan word.

Strauss hoop dat geliefdes en vriende van alle ouderdomme opnuut die kleurvolheid van Afrikaans sal ontdek. Die reëls is eenvoudig genoeg vir oud en jonk om te verstaan en dit sal mense boonop help om hulle kennis van Afrikaans uit te brei.

“Die speletjie het ten doel om soveel moontlik idiome vir mense te leer sodat dit uiteindelik deel van hul woordeskat sal word,” sê hy.

Idiomepret behoort veral ook vir onderwysers wat aktiwiteite in die klaskamer wil opkikker ʼn hulpmiddel te wees. Die moeilikheidsgraad kan aangepas word deur sekere kaarte in te sluit of weg te laat.

“Afrikaansonderwysers kan hierdie speletjie, wat min of meer 10 minute neem, baie handig in die klas aanwend en kan dit selfs vir opstelonderwerpe nader trek.

“Speel-speel brei leerders hulle woordeskat uit en sal jy kort voor lank op die stoepe hoor hoe Juffrou vir wolf skaapwagter gemaak het, of hoe Jannie met die rooi hare Meneer lekker in ʼn wip gevang het,” sê Strauss.

Die bordspeletjie word deur dr. Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), onderskryf en Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) het ook die speletjie geëvalueer en dit nege uit tien gegee.

Speel saam

Idiomepret bestaan uit ses afdelings: Gee die betekenis van die idioom, gee die idioom, pasmaats, voltooi die idioom, gebruik die idioom in ʼn sin en stomstreke/teken.

Dan is daar twee maniere om die speletjie te speel. Dit kan deur twee tot vier spelers gespeel word waar iemand die vrae vra en die persoon/span wat eerste die 30-blokkie op die bord bereik, wen, óf deur twee tot vier spanne waar die span met die meeste punte wen.

Strauss voeg by dat daar ook ʼn kinkel in die kabel is. “Jy kan ʼn kans waag as jy ʼn moeiliker vraag wil beantwoord en dan met die swaaitou opgaan.”

Koop waardevolle tyd, lekkerte en lag saam met jou familie en vriende deur jou Idiomepret op Lig in Duisternis Uitgewers se webwerf vir R360,00 (prys onderworpe aan verandering) aan te skaf.

Skryf nou in

Twee Maroela Media-lesers kan elkeen ʼn Idiomepret-bordspeletjie wen. Die wenner sal ook met ʼn Met een voet in die Bybel wegstap, ʼn boek oor spreekwoorde en idiome in die Bybel. Al wat jy moet doen, is om jou taaltalente in te span en ʼn storie van 150 woorde te skryf waarin jy soveel moontlik idiome gebruik.

Vul jou besonderhede op die kompetisievorm onderaan hierdie artikel in, plak jou idiomestorie in die toepaslike spasie en siedaar, jy is halfpad daar!

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 11 November 2022 om 23:45.

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die kompetisie sluit 11 November 2022 om 23:45.
  • Deelnemers moet ouer as 18 jaar wees.
  • ʼn Paneel wat deur Lig en Duisternis Uitgewers aangewys is, sal die keuring behartig.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind waarna Maroela Media per e-pos en/of telefonies met die wenner in verbinding sal tree.
  • Die wenner sal ook op Maroela Media bekend gemaak word.
  • Die prys(e) kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Lesers wat inskryf, moet ʼn Suid-Afrikaanse adres verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.