As die skoen jou pas

Jare gelede het broederskappe dikwels van plek tot plek gereis. Die storie word vertel dat een van die broeders in ʼn sekere herberg iets waardevols van die herbergier in sy sak gesteek het voor sy vertrek. By die nuwe oornagplek het die herbergier egter kom soek na die skuldige. Die broeder het toe die item in iemand anders se skoene weggesteek sodat hy nie verdink moet word nie, en hy het sodoende die skuld verplaas. As jy dus vandag iemand van iets beskuldig, kan mens sê jy “skuif iemand iets in die skoene“.

Maar, indien jy self skuldig voel oor iets, dan sê ons: “as die skoen jou pas, moet jy hom maar aantrek.” Jy moet dus maar die skimpe oor jou soort gedrag op jouself van toepassing maak!

Nouja, elkeen van ons ken seker ons eie moeilikhede die beste – daarom die uitdrukking “elkeen weet die beste waar die skoen hom of haar druk”.

ʼn Vrypostige persoon is natuurlik te groot vir sy skoene, aangesien die persoon homself klaarblyklik ouer wil voorhou as wat hy werklik is.

Wanneer jy nie graag in ʼn ander se skoene wil staan nie, beteken dit dat jy nie graag in iemand se plek wil wees nie.

Ons almal ken die uitdrukking dat jy ʼn myl in iemand se skoene moet loop voordat jy daardie persoon wil veroordeel oor sy gedrag. Maar ʼn humoristiese alternatief van hierdie uitdrukking doen die rondte. Loop ʼn myl in iemand anders se skoene voordat jy hom wil beledig. Op só manier is jy ʼn myl van hom af weg én jy het sy skoene!

Om die stoute skoene aan te trek is om iets aan te durf. Om iets gewaagds doen nadat jy eers geaarsel het; jou dus verstout om dit uit te voer.

Moenie ou skoene weggooi voor jy nuwes het nie – moet dus nie van ou goed ontslae raak voordat jy seker is dat jy ʼn plaasvervanger het nie.

Daar is verskeie uitdrukkings oor die woord skoenmaker.
Skoenmaker se kinders loop kaalvoet beteken dat vrygewigheid by jou eie huis moet begin.
Ek sal my skoenmaker aan jou kleremaker voorstel dra die betekenis “ek sal jou skop”!
Skoenmaker, hou jou by jou lees! – Bemoei jou dus met sake waarvan jy kennis dra!
En dan, om nie werd te wees om iemand se skoenriem vas te maak nie, beteken om heeltemal daardie persoon se mindere te wees. Hierdie uitdrukking is ontleen aan die Bybel. Johannes die Doper gebruik naastenby dié woorde in Johannes 1:27 ten opsigte van Jesus, maar met die werkwoord los te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.