Uitdrukking:
Boontjie kry sy loontjie
Betekenis:
Elkeen kry sy verdiende loon
Waar kom dit vandaan?
Dié uitdrukking is ontleen aan ‘n Nederlandse sprokie van Ertjie, Boontjie, Strooitjie en Kooltjie Vuur wat gaan wandel het. Hulle kom by ‘n rivier en weet nie hoe om daaroor te kom nie. Strooitjie bied aan om oor die water te lê, en Ertjie en Boontjie loop op hom oor. Toe kom Kooltjie Vuur se beurt, maar in die middel van Strooitjie slaan hy aan die brand en Kooltjie Vuur val in die water. Daaroor lag Boontjie so hard dat hy bars – en dit was sy verdiende loon.