Die berg het ‘n muis gebaar

Uitdrukking:
Die berg het ‘n muis gebaar

Betekenis:
Groot dinge is verwag, maar iets kleins het gebeur.

Waar kom dit vandaan?
Volgens Brewer ontleen aan ‘n fabel van Faidros: Die boere het eendag gesien dat die berge bewe; daar rook by hulle kruine uitkom, die aarde skud. Bome is ontwortel en groot rotse het neergestort gekom. Hulle was daarvan oortuig dat iets verskrikliks sou gebeur. Hulle het gewag en gewag maar daar was niks. Skielik was daar nog ‘n erger aardbewing en ‘n groot gat het aan die kant van die berge ingeval. Die boere het almal op hulle knieë geval. Uiteindelik het ‘n muisie sy kop en snor daar uitgesteek en toe na hulle toe gehardloop en vandaar die uitdrukking.

Maar die fabel word op sy beurt toegeskryf aan die geskiedskrywer en digter Horatius (65 – 8 v.C.) wat die volgende verhaal: Die Egiptiese koning Tachus het in die vierde eeu voor Christus ‘n langdurige oorlog teen Artaxerxes Ochus, die Persiese koning gevoer, en het uiteindelik by die Spartane om hulp aangeklop. Hulle koning, Agesilaos, het met sy troepe opgeruk, maar toe die Egiptenare hom sien, het hulle gelag want hy was ‘n klein, verslonste, halfkreupel mannetjie. Hulle het gesê: “Die berg het geskud, Jupiter het verskrik eenkant toe gestaan, en ‘n muis het uitgehardloop”. Agesilaos het gesê: “Toemaar, julle noem my ‘n muis, maar ek sal julle gou wys dat ek soos ‘n leeu baklei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.