Ek het my koud geskrik en ander uitdrukkings

Argieffoto (Foto: Matthew Henry/Unsplash)

Koue hande, warm liefde; ek het my koud geskrik; koud en warm uit een mond blaas…  Taaltoffie ondersoek ʼn paar uitdrukkings waar koud voorkom.

Koue hande, warm liefde beteken al is jou hande koud, klop jou hart warm.

Iemand se woorde was nog nie koud nie, toe gebeur dit word gebruik wanneer iemand skaars iets gesê het, toe gebeur dit.

Wanneer ʼn persoon sê hy is oud maar nog nie koud nie sê hy hy is eintlik nog fris en kragtig.

Koud word van iets is wanneer jy bang word vir iets.

Hy sit sy vriend koud by die meisie beteken hy skakel sy vriend daar uit.

Ek het my koud geskrik word gebruik wanneer ʼn persoon geweldig groot skrik.

Is jy koud? Kruip onder die hout is ʼn uitnodiging aan iemand om nader aan die vuur te skuif of sit.

Sy staan koud teenoor hulle ellende beteken iemand anders se situasie raak haar glad nie.

Hulle probleme laat my koud word gesê wanneer ʼn persoon geen belang by ander se sake het nie.

Die vloer is te koud vir haar om op te trap beteken sy dink baie van haarself.

Dit het my bloed koud gemaak, word gesê wanneer iemand lam geskrik is.

Iemand kom koud by die werk aan word gebruik wanneer ʼn persoon nie juis haastig was om daar te kom nie.

Iemand wat koud en warm uit een mond blaas weerspreek hulself. Die uitdrukking is ontleen aan ʼn fabel van Esopus: Op ʼn baie koue oggend kom ʼn bosgod op ʼn man af wat op sy vingers blaas om hulle met sy asem bietjie warm te probeer maak. Die bosgod kry die man toe jammer en nooi hom saam huis toe vir ʼn bord heerlike warm sop. Omdat die sop te warm is, blaas die man daarop. Sy gasheer smyt hom toe by die deur uit omdat hy met dieselfde asem (en mond) warm en koud blaas.

In die politiek is hy nóg koud, nóg warm beteken iemand is ʼn draadsitter en dat hy dus nie kant kies nie.

Iemand koudlei is wanneer jy iemand met ʼn redelike argument paai.

Wanneer jy probeer om jou by koue as warm te maak, probeer jy iets doen wat nie sal slaag nie.

ʼn Koue sweet het teen my rug afgeloop beteken jy was uiters bang.

Hy het haar ʼn koue hand gegee word gesê wanneer daar ʼn gedwonge versoening was.

Hulle het iemand in die koue laat bly toe hulle die saak bespreek het beteken ʼn persoon is nie in die saak geken nie.

Jy het nie nodig om jou hande in koue water te steek nie verwys na iemand wat nie hoef te werk nie.

Om te sê daar was ʼn koue oorlog tussen die twee nasies beteken daar het politieke gevegte plaasgevind, maar nie met fisiese wapens nie.

Bronne: Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom, HAT en Wat praat jy!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.