Uitdrukking:
Geen haan sal daarna kraai nie
Betekenis:
Niemand sal dit ooit weet nie; dit sal ‘n geheim bly
Waar kom dit vandaan?
Malherbe: “Sedert die oudste tye word die haan by die Germaanse volke in ere gehou as die draer van kennis en wetenskap. Die volksgeloof heg allerhande betekenisse aan die haangekraai.”
Een legende vertel dat ‘n dorp in die grond weggesink het nadat dit deur ‘n vrou vervloek is aan wie geen losies vir ‘n nag verskaf is nie. Toe die dorp sink, het die mense nog die gekraai van ‘n haan gehoor, maar daarna natuurlik nooit weer nie. Die haan is dus beskou as die besitter van geheime wat deur sy gekraai geopenbaar word.
As die haan nie kraai nie, bly die geheim verborge.
Hierby sluit aan dat die haan kraai as hy ‘n moordenaar sien wat die daad voor hom gepleeg het. As ‘n misdaad dus so stilletjies gepleeg is dat dit geheim sal bly, word gesê dat geen haan daarna sal kraai nie, want dit was nie daarby nie.