Jou ʼn boggel lag en ander uitdrukkings

Argieffoto (Foto: Ben White/Unsplash)

Lag of jy betaal word; jou ʼn boggel (met ʼn skuifraam) lag; vol lag wees…  Taaltoffie ondersoek ʼn paar uitdrukkings waarin “lag” voorkom.

Lag of jy betaal word en hy lag dat ʼn mens sy kleintongetjie kan sien word gesê van persone wat baie hartlik lag.

Iemand wat lag soos ʼn boer met tandpyn is wanneer ʼn persoon gedwonge lag; dit is nie ʼn lag van vreugde nie. Boere het lank gelede nie die geleentheid gehad om die tandarts gereeld te besoek nie (as daar ooit ʼn tandarts was) omdat hulle selde na die naaste dorp gegaan het. Hulle moes dus maar die tandpyn verdra het, wat dit moeilik gemaak het om vrolik te lag.

Jou ʼn boggel (met ’n skuifraam) lag en sy wou haar slap lag beteken dat ʼn persoon besonder lekker en hard lag.

Van lag kom huil is ʼn waarskuwing as kinders te wild te kere gaan.

Om te sê ʼn duisendpoot het iemand gebyt beteken dat daardie persoon aanhoudend lag. Die idee is dat iemand gelyktydig deur ʼn duisend pote gekielie word. Volgens die volksgeloof lag so ʼn persoon totdat hy sterf. Pas op vir die duisendpoot; as hy jou byt, lag jy jou dood is ʼn skertsende uitdrukking wat hiermee verband hou.

Iemand het nie geweet of hulle moes lag of huil nie word gebruik wanneer ʼn persoon half verbouereerd en onseker is oor hoe om te reageer, want hulle het gevoel om albei te doen. Dit word dikwels gesê as iemand iets verregaande doen.

Wie (die) laaste lag, lag die lekkerste verwys na dié wat laaste aan die beurt kom, want hulle het dikwels ʼn voordeel. Die uitdrukking is ontleen aan ʼn fabel van Esopus: In die verhaal moes Esopus die kosmandjie vir sy heer dra. Aan die begin was dit die swaarste om te dra en het die ander vir hom gelag. Hoe verder die reis gevorder het, hoe ligter het sy dra-werk geraak, en kon hy weer vir die ander lag.

Wanneer iets ʼn ernstige saak is, gebruik ons die uitdrukking dis nie iets om oor te lag nie.

Jou ʼn papie/skapie/ertjie lag word gesê wanneer ʼn persoon baie lekker lag.

Om te stik van die lag beteken om lekker te lag.

Iemand wat vol lag is, het ʼn sterk drang om te lag.

Bronne: Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom en Wat praat jy!

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.