‘Jy dink jy is kaas’ en ander uitdrukkings

Argieffoto (Foto: Ben White/Unsplash)

As dikmelk kaas geword het, vir spek en boontjies en iemand in sy eie sop laat kook … Taaltoffie ondersoek ʼn paar uitdrukkings waarin kos voorkom.

Jy dink jy is kaas word vir iemand gesê met ʼn besonder hoë selfdunk.

Al ooit gehoor dat een persoon vir ʼn ander sê “Moenie al die aanbrandsel uit jou pot krap nie”? Dit beteken die persoon moenie alle moontlike middele dadelik gebruik nie, omdat hy of sy dalk later nog daarvan gaan nodig kry.

Om iemand in sy eie sop te laat kook, is om iemand sy eie probleme te laat oplos of aan sy eie lot oor te laat.

Wanneer ʼn persoon as ʼn droë biltong beskryf word, beteken dit dat hy of sy ʼn baie vervelende mens is.

As dikmelk kaas geword het, word gesê van ʼn doodgewone persoon wat weens voorspoed verwaand is.

Iets wat vir spek en boontjies gedoen word, word sommer net vir die grap gedoen.

Daar het suurlemoensap deurgeloop! Dié uitdrukking verwys na ʼn geknoeiery wat plaasgevind het.

Iets wat iemand in hulle kwaad sterk, is botter op iemand se brood.

Mosterd na die maal, beteken dis te laat. Dus, eintlik om iets te bring as dit nie meer nodig is nie, soos Spreekwoorde en ander segswyses verduidelik.

Wanneer twee dinge dieselfde uitwerking het, sê ons dit is peper en sout.

Bronne: Afrikaans vir almal, Spreekwoorde en ander segswyses, en Wat praat jy?

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

David ·

‘Staan en kla met ‘n witbrood onder die arm’ en ‘krummels wat brood geword het’

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.