Klubs, sjebiens, vriende, vyande, en ander diewe

Argieffoto

Kyk, ek laat my nie van lekkergoed versoek nie. En ek is ook nie neusoptrekkerig oor waarmee ek my suikerverslawing voed nie. Duur sjokolade, ingevoerde drop, pienk ouderlingswiets – alles verdwyn in my huis soos die spreekwoordelike mis voor die son. Ek voel ook nie eers sleg daarna nie, ek drink net water en eet nog.

Maar die een ding waarmee ek kan uitstel, is ʼn mooi boek. Ek kan dit koop of present kry, en dit maande lank laat lê tot ek genoeg tyd tot my beskikking het om dit behoorlik te lees. Met aandag en toewyding, so proe-proe sodat ek die lekkerte kan uitrek. Want ʼn boek wat gelees is, is soos ʼn kuier met ʼn hartsmens wat verby is – jy kan dit herhaal, maar jy kry dit nooit weer terug nie.

So kry ek ʼn rukkie gelede ʼn boek van wyle Anton Prinsloo present met die mooi naam ʼn Dief aan die kers. Dit is reeds in 2013 deur Pharos uitgegee, ʼn onderafdeling van NB, en die titel word voor in die boek deur die outeur verklaar. Vroeërjare, toe kerse nog algemeen gebruik is (nou ja, toe die oumense nie so nou en dan elektrisiteit gehad het nie), was die uitdrukking beter bekend. Dit het verwys na die was wat afdrup aan die kant van ʼn kers wat skeef brand. Vir ʼn stadskind soos ek was so ʼn kers mos maar ʼn vreemde lekkerte gedurende ʼn plaaskuier, en ek kan onthou van ʼn paar skroeislae omdat ek met daardie stukkie was in die vlam gesit en speel het.

Ieder geval, die boek handel oor woorde waarvan “die oorspronklike betekenis mettereeue deur ʼn soortgelyke woorddief so skelm skeefgetrek is dat die huidige betekenis eintlik onsin is”, aldus Anton Prinsloo. En vir ʼn taalagie soos ek, is dié kromgetrekte woordbetekenisse behoorlik fassinerend. Hier is ʼn paar lekkertes:

ambisiebyna onbedwingbare drang om jou baas se kop in te slaan om sy pos te kry. Die definisie (in skuinsdruk) is Anton Prinsloo sʼn; die man had ʼn humorsin. Maar, sê hy, oorspronklik was ʼn persoon met ambisie iemand wat van huis tot huis gewandel het om stemme te werf. Dit kom van die Latynse ambitio, wat ʼn samestelling is van ambo (rond) + itus (gaan). Daardie ambo hoor ʼn mens ook in ambulans, wat ʼn ’rondlopende hospitaal’ is.

beskuitgebak wat in die oond uitgedroog is. Al ooit gewonder hoekom beskuit en die Engelse biscuit so na aan mekaar klink en so ver van mekaar beteken? Die Engelse het die woord by die Franse oorgeneem, waar dit saamgestel is uit bis (twee) + cuit (van cuire -> bak). Die letterlike betekenis is dus ‘twee keer gebak’. Dieselfde slaan deur in die Duitse Zwieback.

croissanthalfmaanvormige broodrolletjie. Dit beteken letterlik ‘groeisel’, omdat die deeg so uitrys as dit gebak word. Maar die geskiedenis van die broodjie is nog interessanter as die woord se etimologie. In 1686 het die Turke Boedapest een nag omsingel. Die bakkers het gedurende die nag agtergekom dat die Turke ʼn tonnel onder die stadsmuur deur aan’t grawe is, en alarm gemaak. ʼn Nuwe broodjie is ontwerp om die oorwinning oor die Turke te vier – in die vorm van die halfmaan op die Turkse vlag.

debat hoflike bespreking van ʼn onderwerp volgens bepaalde gespreksreëls. Dit kom uit die Latyn en is saamgestel uit de (volkome) en batuere (slaan) en het beteken om jou teenstander dood te skree tot hy/sy die onsinnigheid van sy/haar standpunt insien. (As ek so na beeldmateriaal van plaaslike en buitelandse parlemente kyk, vermoed ek daar is ʼn paar lede wat eerder hierdie antieke definisie van die woord aanhang.)

galeryverhoogde balkon, gewoonlik in ʼn kerk of saal. Dit is moontlik, beweer Anton P, ʼn verwringing van Galilea, die noordelikste, verste deel van Palestina/Israel, want galerye is altyd in ʼn kerk in die verste deel van die preekstoel af.

klubeksklusiewe vereniging slegs vir lede. Op die oog af lyk dit asof die Afrikaanse klub en die Engelse club (knuppel) min gemeen het buiten ortografie. Maar oorspronklik was die Engelse verklaring vir ʼn club (die vereniging) mense wat so styf teen mekaar gestaan het om vreemdelinge weg te hou dat hulle soos ʼn knuppel gelyk het.

naïefonskuldig; oningelig. In Oudfrans beteken naif ‘pasgebore baba’. Die eeue het so ʼn paar wye draaie met hierdie betekenis gegooi.

orkesmusikante wat saam musiek maak. In antieke Rome was die stoele van die senatore in die teater die orkes. Dit is in ʼn halfmaan opgestel sodat die dansers en die musikante in die middel kan optree.

raketinstrument waarmee die bal in ʼn tenniswedstryd geslaan word. Aanvanklik is die bal nie met ʼn instrument geslaan nie, maar met die handpalm. Die woord is moontlik afgelei van die Arabiese rahat, wat ‘handpalm’ beteken.

sjampoe – geurige seep waarmee hare gewas word. In die oorspronklike Hindi was champo bloot ‘masseer’. Die sprong is moontlik gemaak tussen die handeling van hare was waartydens die kopvel masseer is en die seep wat tydens die proses gebruik is.

sjebien – ongelisensieerde kroeg. Uit die Iers sibin wat ‘klein bekertjie’ beteken het. Die ou klein bietjie slegte bier het kroegeienaars genoop om later maar ook whiskey en spek en eiers te verkoop.

vriend; vyandʼn goedgesinde; ʼn teenstander. In Goties het frijonds ‘liefhebbend’ beteken. Daarteenoor was fijonds ‘hatende’.

Mag jou frijonds ʼn klub om jou trek en jou fijonds mekaar in ʼn debat verdelg sodat jy in vrede in die sjebien jou croissant kan geniet.

VivA-groete
Sophia

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.