Mooi broodjies bak en ander uitdrukkings

Argieffoto (Foto: Przemyslaw Gawor/Pixabay)

Mooi broodjies bak, iemand se brood uit sy mond neem, net van brood en water lewe…  Taaltoffie ondersoek ʼn paar uitdrukkings waar “brood” in voorkom.

Droë brood eet beteken om baie arm te wees.

By gebrek aan brood eet ’n mens maar korsies van pastei word gesê as die gewone ding ontbreek en iemand iets van groter waarde gebruik.

Om dit/iets op jou brood te kry is om baie verwyte te hoor.

Wie se brood ’n mens eet, dié se woord ’n mens spreek beteken dat jy die persoon van wie jy vir jou bestaan afhanklik is steun en dat jy soos die persoon aan wie jy rapporteer praat.

Ons het almal al die uitdrukking ’n mens kan/sal van brood alleen nie lewe nie gehoor. Dit beteken ʼn mens het behoefte aan meer as kos en die alledaagse dinge.

Wanneer iemand van sy of haar verdienste ontneem word, word die uitdrukking iemand se brood uit sy/haar mond neem gebruik.

Het jy al mooi broodjies probeer bak? Dit beteken om iemand te vlei; tegemoet te kom met die oog op eie voordeel of om iets goed te maak.

Iets om den brode te doen is wanneer ʼn jy iets ter wille van jou verdienste doen; om broodnodige geld te verdien; of ter wille van ʼn bestaan: om den brode allerhande los werkies aanpak.

Iemand iets op sy/haar brood smeer word gesê van iemand wat die waarheid vertel.

Om (net) van brood en water lewe is om ʼn hongerbestaan te voer.

Wanneer jy goed doen sonder gedagte aan beloning, sê ons jy het jou brood op die water(s) gewerp.

Bron: HAT

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.