Sukkel jy ook soms met die oggend-blues?

Lizma van Zyl. Foto: Jaco Marais.

Idioom: Met die verkeerde voet uit die bed klim…

Ek sal nooit vergeet hoe ek jare gelede tot groot vermaak van my radiokollegas met ’n onpaar skoene by die werk opgedaag het nie. Dit was een van daardie met-die-verkeerde-voet-uit-die-bed-klim-dae.

Hoewel albei stewels (gelukkig) swart was, was die een se hak heelwat hoër. Ek het nuus geskryf en -gelees en moes elke halfuur, betyds vir die jingle, rustig agter die mikrofoon sit. Nodeloos om te sê, om die lang gang tussen die nuuskantoor en ateljee so vinnig en veilig as moontlik te kon aflê, moes die skoene uit. (En hierin was ’n les: moet nóóit sokkies met gate dra nie, want wie weet wanneer ’n stewel kan sneuwel)

Dit gebeur met ons almal. Dikwels vir geen goeie rede nie. Ons staan bloot met ’n “mislikheid” op. Nukkerig en min lus vir die dag wat voorlê.

Einste hier op Maroela Media was daar vyf jaar gelede ’n beskrywing oor wat dit nou eintlik beteken om met die verkeerde voet uit die bed te klim. Dié uitdrukking het glo sy oorsprong by ons oervoorvaders (en -moeders) wat geglo het om met die linkervoet eerste uit die bed te klim, bring ongeluk en selfs dood oor die huis.

Hoewel ons dalk nie vandag bygelowig is oor ’n linkervoet wat die grond eerste raak nie is die uitdrukking steeds algemeen in gebruik. Die normaalweg opgewekte tannie by jou vriendelike groentemark is een oggend sommer net nors en vra nie soos gewoonlik uit oor al wat leef en beef in jou familie nie. Sy stop die wortels en uie hardhandig in die bruin papiersak met ’n keep tussen die oë. Sy sien jou vraende uitdrukking en die frons versag effens. “Skuus hartjie, ek is maar net in ’n bad mood!” (Die tamaties ly genadiglik nie.)

Wat dikwels gebeur is dat dáárdie bui die res van jou dag bepaal. Dit voel soms soos ’n sneeubal wat net rol en rol en groter word. Alles gaan verkeerd! Jou oggendkoffie bly in die slag, want die melk is op; die pad is besiger as gewoonlik en jy kom tien minute laat by die werk aan; ’n kollega is siek en jy moet sonder voorbereiding instaan vir ’n vergadering met ’n nuwe kliënt. Die lys word langer tot jy laatmiddag in jou motor klim en reg is om koers te kies Kilimanjaro toe. Wanneer ’n jong lat in sy fancy viertrek-BMW dan boonop sonder waarskuwing of verskoning reg voor jou op die snelweg inskuif, vat dit uiterste selfbeheer om nie daardie Duitse tegnologie met ’n stampie te spoil nie.

Daardie oggend-blues is, volgens dokters, dikwels die gevolg van te min slaap, algemene uitputting, jouself in ’n werk bevind wat jy nie geniet nie of sommer net opsien na nog ’n dag van roetine. Same old, same old… (As dit ’n daaglikse gebeurtenis is, kan depressie of trauma die oorsaak wees en benodig die toestand waarskynlik professionele hulp.)

Grumpy Cat glo nie daar is so iets soos ‘n ‘goeie môre’ nie. Argieffoto.

Hoe dit ook al sy, terapeute doen ’n paar praktiese wenke aan die hand as teenvoeter vir daardie oggend-blues:

  • Staan tien minute vroeër op sodat jy nie jaag nie;
  • Maak dadelik jou bed op sodat jy nie in die versoeking kom om terug te klim nie;
  • Skuif die gordyne oop sodat sonlig kan instroom (of skakel ’n helder lig aan);
  • Hou jou oggendroetine eenvoudig;
  • Geniet ’n paar minute se stiltyd; en
  • Moenie dadelik in jou admin of e-posse induik nie.

(In my geval is ’n stappie met my hondekamerade voor die oggendgeraas altyd ’n kuur!)

Dennis S. Brown, ’n Amerikaanse motiveringspreker, sê die enigste verskil tussen ’n goeie en slegte dag is jou ingesteldheid. Ek betwis nie die wysheid van sy woorde nie, maar soos ons almal weet, is dit ook makliker gesê as gedaan.

Soms ís ek net ’n bietjie befoeterd. Moet net nie dan met my karring nie.

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie goed, Idiome en uitdrukkings, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

linkervoet ·

Dankie vir die raad. Dit sal my help om vroeer op te staan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.