Uitdrukking:
‘n Swaap
Betekenis:
Iemand wat uiters dom is
Waar kom dit vandaan?
In Afrikaans deur Hollands vanuit Duits beland as die sogenaamde swaapstories.
Die swape was inwoners van die streek Swabië in Suidwes-Duitsland. Die Schwabe word tradisioneel en spreekwoordelik as dom beskou, en vroeër jare is hulle wedervaringe as vermaaklike stories in Afrikaanse laerskoolleesboeke opgeneem.
Byvoorbeeld: Toe die vyand op pad was om die streek in te val, het die mense van ‘n klein Swabiese heuweldorpie besluit dat hulle hul besonder mooi en welluidende dorpsklok moes wegsteek. Die enigste veilige plek, volgens hulle oordeel, was die see. Hulle het die klok op ‘n boot gelaai en begin roei. Die burgemeester wou weet hoe hulle ná die oorlog weer die plek sou kry waar die klok laat sink is. Die Swabiese oplossing was om ‘n keep in die boot se rand te sny dáár waar die klok oorboord gegooi is.