Taaltoffie: ‘First come, first served’

Argieffoto (Foto: RyanMcGuire/Pixabay)

Een van die Afrikaanse vertalings vir first come, first served is “eerste kom, eerste maal”, skryf Spreekwoorde en ander segswyses. Dit beteken dat diegene wat voor ander êrens opdaag, eerste aan die beurt kom of eerste gehelp word.

Waar kom dit vandaan?
Die uitdrukking het sy oorsprong in prosesse wat meulens destyds gevolg het, naamlik dat koring wat eerste opdaag eerste gemaal word.

Spreekwoorde en ander segswyses verduidelik verder dat die Nederlandse maal/male ʼn argaïese woord is wat vroeër verwys het na “die plek waar landsake bespreek is”. By uitbreiding dan ook die werkwoord malen wat “regspraak lewer” beteken. Dié bron maak die afleiding dat hierdie uitdrukking moontlik dalk daarop gedui het dat persone wat eerste by die hof opdaag, eerste hulle saak kon stel.

Variasies
Jy kan ook die volgende Afrikaanse moontlikhede vir first come, first served gebruik:

  • Eerste in die boot het ʼn keur van rieme (Spreekwoorde en ander segswyses).
  • Dit is elke man se gouigheid (Wat praat jy?).
  • As jy nie daar is nie, word jou kop nie gewas nie (Pharos se tweetalige woordeboek).
  • Eerste by die meul, eerste maal (Pharos se tweetalige woordeboek).

Bronne: Spreekwoorde en ander segswyses, Afrikaans-Engels/English-Afrikaans Dictionary (Pharos 2010), Wat praat jy?

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.