Taaltoffie: ‘n rekord opstel en ander soortgelyke uitdrukkings

Argieffoto

Argieffoto

Jy stel ‘n rekord [NIE: nuwe rekord] op. Jy kan wel praat van “die vorige rekord” [NIE: die ou rekord] as jy die twee vergelyk, teenoor: ‘n (stok)-ou of vorige rekord van lank gelede. Rekord word dus gebruik vir ‘n prestasie wat ‘n vorige prestasie oortref: Die atleet het ‘n rekord geslaan, laat spat of opgestel, die rekord geëwenaar, dit tot [NIE: na] 1.96 m verbeter of dit oortref.

Omdat rekord dui op die beste vertoning op ‘n bepaalde baan of gebied, word rekord(s) nie in figuurlike sin gebruik vir prestasies, inligting, handelinge of gebeure van die verlede nie; gebruik in laasgenoemde verband, na gelang van die konteks: dokumente, stukke, register, inskrywings, ‘n verslag, (skriftelike) bewys, gegewens of inligting, vermelding, misdaadgeskiedenis/=lys/=agtergrond of vorige veroordelings (weens misdaaad), vonnislys, diensstaat, vertoning en optrede (tot dusver).

have a bad record baie op jou kerfstok hê of geen goeie geskiedenis hê nie
a bad track record iemand se boeke is nie skoon nie, of hy het swak gevaar
someone with a clean record iemand met ‘n skoon lei
for the record om die feite te gee, vir die goeie orde, om iets te laat boekstaaf, om ‘n juiste/getroue weergawe te gee van iets wat gesê is
the first record of die eerste vermelding van
have a good (track) record (for) bv. ‘n maatskappy het al goed gevaar, gepresteer, groot welslae behaal of het ‘n goeie prestasielys
keep record bv. van alle uitgawes boekhou of dit aanteken [NIE: rekord hou], opskryf of op skrif stel
it is on record dit is bekend, geboekstaaf/aangeteken [NIE: dit is op rekord dat…]
place on record opteken, die feite gee, boekstaaf, laat notuleer, te boek stel, neerskryf, op skrif stel [NIE: op rekord plaas]
have a proud record ‘n trotse geskiedenis, prestasielys of verlede hê
say something for the record vir kennisname
a safety record ‘n veiligheidsgeskiedenis; veiligheidsprestasie/=vertoning tot dusver kan goed of swak wees na gelang van die aantal ongelukvrye (werkers)dae
speak on record iets sê wat gepubliseer kan word

Hierdie brokkie is gepubliseer in die boek: Skryf Afrikaans van A tot Z
Uitgewer: Pharos
Prys: R350-00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.