Uitdrukking: Baantjies vir boeties

Argieffoto. (Foto: Ben White/Unsplash)

Uitdrukking:
baantjies vir boeties

Betekenis:
Die uitdrukking “baantjies vir boeties”, of nepotisme, is gegrond op die bevoordeling of voortrekkery van familielede in beroepsvelde soos besigheid, politiek, vermaak, sport en godsdiens: Ek kan sien hoe korrupsie, nepotisme, baantjies-vir-boeties, onbekwaamheid en swak leierskap hierdie land lei na ekonomiese stagnasie, werkloosheid, armoede, chaos en die uiteindelike onvermydelike gevolg: die sinkput van ʼn gefaalde staat waaruit selfs die kankerselle wat dit veroorsaak het, nie kan ontsnap nie (Dawie Roodt, Maroela Media, 9 Augustus 2015); Misbruik van mag en posisie, bevoorregting van sommige en baantjies vir boeties maak mense desperaat (Maroela Media, 21 Januarie 2016); Die ingewikkelde netwerk van patronaatskap, baantjies vir boeties en familieverbintenisse het vinnig gelei tot die “mafia-sasie” van die Suid-Afrikaanse staat, meer eufemisties genoem “staatskaping” (Rhoda Kadalie, Maroela Media, 18 Julie 2016).

Waar kom dit vandaan?
“Baantjie” in Nederlands beteken ‘betrekking, loopbaan’. Die uitdrukking is aanvanklik deur matrose gebruik. Hierdie baantjie was dan in die besonder aan wal, wat ʼn matroos bevry het van die vermoeiende werksaamhede aan boord. In Nederlands is baantjie waarskynlik ontleen aan die ysskaats: as jy ʼn onbekwame skaatser was en jy moes ’n hele ent skaats, het jy op ’n skoongeveegde baan gebly om jou tog te vergemaklik. Oordragtelik is die idee ook dat ʼn baantjie vir ʼn boetie min moeite maar groot besoldiging meebring.

Bronne: Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA) en Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gato ·

In die huidige bestel kan dit ook vertaal word met BBBEE en EE. Mense word aangestel en bevoordeel vir besigheid op grond van hulle velkleur. Dit is nie n nuwe konsep nie want dit gebeur al vir eeue lank. Die verskil is net dat dit nou deur wetgewing afgedwing word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.