Uitdrukking: Derde keer (of drie maal) is skeepsreg

Argieffoto

Argieffoto

Uitdrukking:
Derde keer (of drie maal) is skeepsreg

Betekenis:
Die derde poging is gewoonlik suksesvol; alle goeie dinge bestaan uit drie

Waar kom dit vandaan?
Malherbe is van mening dat die ou opvatting dat drie ʼn heilige getal is, in dié spreekwoord skuil, maar dit is net ʼn gissing, want dit verklaar nie die byvoeging in Ou Nederlands van …en eenmaal voor de knecht nie. Volgens ander bronne was dit vroeër hoegenaamd nie ʼn dreigende opmerking nie, en het dit niks met seevaartstrawwe soos kielhaal te make gehad nie.

Myns insiens is dit vas en seker dat dit nie met die skeepvaart te make het nie. Die schepenrecht van Middelnederlands was die “wetboek vir die regspraak van die skepe, of die regspraak van die skepe self”. Hierdie skepe (Middelnederlands schepen) was regters wat die wet in ʼn stad toegepas het. Daar was dikwels sewe van hulle, waaruit een as burgemeester aangewys is en dan as die schepenburgemeester bekend gestaan het.

Die betekenis van “munisipale regter” blyk duidelik uit ander samestellings met schepen- in Middelnederlands, byvoorbeeld schepenbank (“regbank”), schepenboec (“boek waarin die vonnisse aangeteken is”), schependoem (“skeepsvonnis”, maar ook die gebied waar ʼn bepaalde erfreg, die schependomsrecht gegeld het, in teenstelling met die aasdomsrecht wat deur die buurtregters of azigen uitgeoefen is) en ʼn tiental meer, waaronder schepencnape (“geregsbode”). Die skeeps- van skeepsreg het niks met die vloot te make gehad nie.

As ʼn mens drie maal dieselfde oortreding begaan het, is jy onder die reg van die schepen vervolg. Maar nie as jy ʼn “kneg” was nie: dan het die Ou Nederlandse byvoeging gegeld, naamlik en eenmaal voor de knecht.

Dit maak sin as ʼn mens ook weet dat een van die betekenisse van Middelnederlandse cnecht juis “dienaar van die gereg” was: die polisieman het geen tweede kans gekry as hy ʼn oortreding begaan het nie – dit was sommer dadelik skeepsreg vir hom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Popeye ·

…en kyk waarmee kom baie van die Polisie elke dag weg in hierdie tye, daar is net geen reg toerekenbaar nie, altans so blyk dit!

Francois ·

Uiters interessant om die oorsprong van sekere hedendaagse gesegdes en idiome te kan bepaal. Soms is daar so ‘n wanopvatting van die betekenis en dit word slegs duidelik indien die oorsprong in die oorsponklike taal nagevors word.

Petrus van Eeden ·

Drie was in die Heidense tyd n gelukkige getal in Europa. Die Germaanse mitologie (maar ook Keltiese mitologie) wemel van die syfers 3, 6 en 9. Nege (3×3) was die allerheiligste getal. Met die koms van die Christendom na Europa, word die ou begrippe behou, maar ons ou inheemse Germaanse religie uitgeroei en met die Christendom vervang.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.