Uitdrukking: Deur die mat val

Argieffoto (Foto: badziol40, Pixabay)

Argieffoto (Foto: badziol40, Pixabay)

Uitdrukking:
Deur die mat val

Betekenis:
Misluk

Waar kom dit vandaan?
Die uitdrukking is ‘n vervorming van die Nederlandse door de mand vallen. Die mand het ons in Afrikaans net in die verkleinwoord mandjie behou. Omdat die mand onbekend was, het ons Afrikaanse voorouers dit tot die naaste bekende woord vervorm, naamlik mat.

By sekere Middeleeuse strawwe is die veroordeelde met ‘n mes maar sonder kos of drank in ‘n mandjie bo water opgehang en dan met alles wat vuil was, bestook. As hy die gemors en die stank nie meer kon verdra nie, kon hy die tou waaraan die mandjie was, deursny. Hy het natuurlik dan in die water geval. Dit het tot 25 keer gebeur voordat hy toegelaat is om uit te klim. Hy moes dan na die stadspoort hardloop terwyl hy met klippe bestook word.

‘n Ander moontlike herkoms is die gewoonte wat jong meisies gehad het om ‘n ongewenste vryer allerhande intimiteite te belowe. Die vryer is dan volgens belofte in ‘n mandjie na die beloofde land in die bokamer opgehys – min wetende dat die half losgesnyde bodem onder sy blaker gaan uitval en hy met ‘n slag aarde toe sou kom. Hy het dus letterlik deur die mand geval.

‘n Derde moontlikheid is dat dit kom uit die boerenboeldagen, dit wil sê die vendusiedag van ‘n boer se boedel, in Groningenland. Die seuns het dan ‘n strooipop deur ‘n mandjie laat gly tot spot en simbool van die meisies wat geen vryer by dié landelike fees gehad het of kon kry nie.

Laastens is daar die heel praktiesste voorstel dat dit bloot verwys na sand of meel wat nie in ‘n mandjie gedra kan word nie omdat dit uitlek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.