Uitdrukking:
Die Gordiaanse knoop deurhak.
Betekenis:
‘n Moeilikheid uit die weg ruim.
Waar kom dit vandaan?
Dit verwys na ‘n gebeurtenis meer as 2 000 jaar gelede waarby Aleksander die Grote betrokke was. Toe hy klein-Asië ingeval het, het hy op ‘n wa afgekom wat Gordius, die koning van Frigië, aan Jupiter opgedra het. Die disselboom van die wa het Gordius aan ‘n paal vasgemaak – met so ‘n ingewikkelde knoop dat niemand dit kon loskry nie. Toe Aleksander hoor dat die persoon wat die knoop kan losmaak oor die hele ryk van Asië sou regeer, wou hy sy leër inspireer en sy vyande oortuig dat hy gebore is om te oorwin. Hy het geen tyd gemors om die knoop los te wikkel nie, maar dit eenvoudig met een hou van sy swaard deurgesny.