Uitdrukking: Die koeël is deur die kerk

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Uitdrukking:
Die koeël is deur die kerk

Betekenis:
Die saak is beslis. Daar is niks meer aan te doen nie.

Waar kom dit vandaan?
Vroeër eeue kon vlugtelinge, misdadigers en skuldenaars hulle toevlug neem tot sekere plekke wat as veilige hawens verklaar was.

In antieke tye reeds het die Hebreërs stede gehad waar mense wat misdade sonder voorbedagte rade gepleeg het, kon gaan skuil. So word daar in Duet. 4:43 vermeld dat Beser, Ramot en Golan, oos van die Jordaan, vrystede was wat deur Moses geskep is. Joshua het wes van die Jordaan die stede Kedes, Sigem en Hebron tot vrystede verklaar (Jos. 20:1-8).

In Egipte het die tempels van Osiris en Amon hierdie status geniet, en in Griekeland alle tempels. Die reg om in Christelike abdye en kerke toevlug te vind, is die eerste keer reeds in die 4de eeu n.C. by wet erken. Dié reg is dikwels geskend, en is later herroep (byvoorbeeld in 1723 in Engeland).

ʼn Beroemde voorbeeld is die kanonkoeël wat die Spanjaarde tydens die beleg van Haarlem in 1573 deur die Sint Bavo-kerk geskiet het. Volgens oorlewering was die koeël vir die predikant bedoel, maar dit het hom gemis en in ʼn binnemuur van die kerk vasgesteek waar dit tot vandag gesien mag word.

Die spreekwoord het dus gesê: As iemand in ʼn kerk skuil en daar trek skielik ʼn koeël deur die kerk, het die vlugteling geweet dat sy agtervolgers nie eens die wettigheid (en heiligheid) van die plek respekteer nie, en dat hy niks meer aan sy saak kon doen nie.

Bron: Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.