Uitdrukking:
Die oggendstond het goud in die mond
Betekenis:
Deur vroeg op te staan, kan ‘n mens baie vermag
Waar kom dit vandaan?
Die voorstelling dat die môrestond goud in die mond het, kom van die Romeinse mitologiese godin Aurora (die daeraad).
In die Sweedse tradisie val daar ‘n goue ring uit haar mond as sy lag, goudstukke as sy praat en uit haar hare as sy dit kam.
In die Deense oorlewering is dit silwer en edelgesteentes, en in die Roemeense goud en silwer. (Interessant ook is dat die element goud die chemiese formule Au het, die aanvangsletters van die dame se naam, asook die woord vir dagbreek.)
‘n Hongaarse spreekwoord berus ook hierop: Die man wat vroeg opstaan, sal ‘n goue muntstuk kry.
Volgens die mite vlieg die godin elke oggend deur die hemelruim en kondig die koms van die son aan. Haar broer en suster is onderskeidelik Sol (die son) en Luna (die maan) en vier van haar seuns is die winde uit die vier windstreke. Sy was so hewig ontsteld oor die dood van ‘n ander seun van haar dat haar trane soggens in haar vlug op die aarde as dou val.