Uitdrukking: Geen kind of kraai hê nie

Argieffoto (Foto: Nathan Bingle/Unsplash)

Uitdrukking:
Geen kind of kraai hê nie.

Betekenis:
Niemand hê om voor te sorg nie.

Waar kom dit vandaan?
Dié uitdrukking het ʼn baie interessante maar wrede herkoms. In Middelnederlands was die uitdrukking kind no craet, en die craet was die gekraai van die haan. Die kraai in die Afrikaanse idioom het dus niks te make met die voël wat so kan kras nie. Vroeër eeue is mense voor die hof gesleep as hulle nie hulle skuld kon betaal nie, en dan in die tronk gestop totdat hulle dit kon doen. Dit was natuurlik ʼn wrede kringloop, want in die tronk kon jy geen geld verdien om jou krediteure te betaal nie. In die hof sou die aangeklaagde dus vurig smeek om nie gekerker te word nie. As hy nie kind gehad het nie, het dit beteken dat daar niemand was, nie eens ʼn familielid, om namens hom te praat en hom sodoende van sy lot te red nie. As jy nie hanekraai het nie, beteken dit logieserwys dat jy nie eens ʼn haan het nie, en die haan was ʼn simbool van besittings: selfs die armste mens het darem altyd ʼn haan gehad. As jy dus no craet gehad het, het die hof geweet dat jy nie ʼn duit of dubbeltjie het om te betaal nie.

Bron: Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ronel ·

Ah dankie vir die verduideliking, mens wonder altyd waar die gesegdes van daan kom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.