Uitdrukking: Iemand boikot

Charles Boycott

Charles Boycott

Uitdrukking:
Iemand boikot

Betekenis:
Iemand ignoreer/uitsluit; iemand nie te ondersteun nie.

Waar kom dit vandaan?
Dié uitdrukkingverwys na kaptein Charles Boycott, in die laat 19de eeu ‘n agent van graaf Erne, ‘n groot grondbesitter in die graafskap Mayo in Ierland.

Die Ierse Land League is in 1879 opgerig om die pagters teen uitbuiting van die grondeienaars te beskerm. Boycott was besonder ongenadig met die huurders en het beslag gelê op hul besittings as hulle nie die uitermate hoë huur kon betaal nie. Hy het ook, na twee mislukte aartappeloeste, geweier om die huurgeld met 25% te verlaag.

Charles Parnell, voorsitter van die Land League moes die gemoedere van die huurders kalmeer – hulle wou die agente van die grondeienaars vermoor! Hy het voorgestel dat só ‘n persoon heeltemal alleen gelaat moet word: op straat; in die winkels; op die mark; selfs in die kerk moes die skarminkel geïsoleer word.

Die resultaat van dié stief behandeling was dat Boycott se personeel weggeloop het, sy vee verdryf is, hy op straat gespot is, sy pos onderskep is en die handelaars geweier het om iets aan hom te verkoop.

Boycott begaan toe die flater om sy lot in The Times te bekla, en skielik is sy naam en die saak voorbladnuus.

Die koerante begin die woord boycott as werkwoord gebruik, en gebruik dit as ‘n alternatief vir ostrasisme. Die nuwe woord het oornag deur Europa versprei. In Russies word dit bojkotirovat, in Italiaans boicottare, in Spaans boycotear, in Frans boycotter en in Afrikaans ons huidige verafrikaanste woord, boikot.

Omdat die boikot van Boycott so ‘n groot sukses was, het die woord inslag gevind en word dit ‘n eeu later steeds gebruik.

Taalkundig is dit interessant dat die woord beskryf wat aan hom gedoen is, en nie wat hy aan andere gedoen het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.