Uitdrukking: Met iemand draak steek

Een van die talle afbeeldings van St Joris en die draak

Een van die talle afbeeldings van St Joris en die draak

Uitdrukking:
Met iemand (die) draak steek

Betekenis:
Iemand vir die gek hou

Waar kom dit vandaan?
Die uitdrukking het sy ontstaan in die legende van die dapper St. Joris, eintlik Georgius, prins van Kappadosië, wat in die derde eeu na Christus geleef het. Hy het ʼn vreesaanjaende draak wat die land geterroriseer het en die dogter van die koning wou verslind, met sy dolk doodgemaak.

Hierdie ridder word later in die Middeleeue sinnebeeld van die Christelike ridder wat die heidense draak doodsteek.

In daardie tyd kry hy toe, soos alle ridders, ʼn rooi kruis op sy silwer wapenskild. Op talle muntstukke uit die 15de en 16de eeu word hy afgebeeld met die kruis op sy wapenuitrusting terwyl hy te perd of te voet die draak deurboor, soms met ʼn spies, soms met ʼn swaard.

In optogte kom hy meermale voor, onder andere in Amsterdam in 1550, waar hy met sy lans na ʼn groen draak steek. Hy is onontbeerlik in hierdie optogte waarin hy maar net vir die grap sy lans steek in die gedierte wat van linne gemaak en met strooi gevul is.

Die herinnering aan St. Joris het mettertyd vervaag, maar die skertsende draaksteek word nog in die taal bewaar: as iemand iets doen sonder dat dit sy erns is, word gesê dat hy daarmee die draak steek.

Die legende is ook bekend in Engels onder die titel St George and the dragon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

In SA moet jy egter versigtig wees om nie vir rassisme aangekla te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.