Uitdrukking: So bang vir iets wees soos die duiwel vir ’n slypsteen

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Uitdrukking:
So bang vir iets wees soos die duiwel vir die/’n slypsteen/draaisteen/knapsak/aambeeld

Betekenis:
Baie bang vir iets wees

Waar kom dit vandaan?
Die slypsteenvrees berus op ʼn oorlewering dat die duiwel as straf die slypsteen moet draai as hy ʼn dronk man laat verongeluk.

Die knapsakvrees het ʼn ander oorlewering as oorsprong: dit is gegrond op ʼn ou Vlaamse verhaal oor die smid wat sy siel aan die duiwel verkoop het. Hierdie soort verhaal het reeds in 1587 in Frankfurt verskyn in Johann Spiess se Historia von D. Johann Fausten, waarin Faust (ʼn historiese figuur wat deur sy handelinge ook Martin Luther oortuig het dat hy oor demoniese magte beskik) 24 jaar se jeug, kennis en towerkrag van die duiwel ontvang in ruil vir sy onsterflike siel. Ons Vlaamse smid kon ongelukkig nie dieselfde kontrak beding nie en moes met sewe jaar tevrede wees. Tydens dié sewe jaar kom Sint Petrus daar aan om sy donkies te laat beslaan. Die smid, waarskynlik onder die indruk van die vernaamheid van die besoeker, doen die nodige gratis. Sint Petrus skenk hom toe drie wense.

Die smid vra gewoon dat iemand wat op sy stoel gaan sit, nie sonder sy verlof sal kan opstaan nie. Dieselfde wens geld ook vir iemand wat in sy geldsak kruip of in sy peerboom klim. Volgens die kontrak kom die duiwel ná sewe jaar terug om sy smid te eis. Die smid nooi hom om te gaan sit solank as wat hy hom vir die reis gaan klaarmaak. Toe die smid terugkom, kan die duiwel nie opstaan nie en die smid laat hom eers belowe dat hy nóg sewe jaar sal wag voordat hy weer terugkom.

Die volgende keer haal die smid die duiwel oor om pere te gaan pluk as padkos vir die reis, met dieselfde resultaat van nóg sewe jaar se uitstel. Die derde keer groet die smid hom vriendelik en knoop ʼn praatjie aan. “Is dit waar dat jy jou baie groot kan maak?” vra hy. Die duiwel knik en skielik is hy so groot soos ʼn toring (so lui die Vlaamse verhaal, nie soos ʼn reus of ʼn berg nie). “Kan jy jou ook so klein maak dat jy in hierdie sakkie kan kruip?” vra die smid. Natuurlik kan die duiwel dit doen. Die smid knoop skielik die sak toe en sit dit op die aambeeld. Hy roep al die manne met hulle hamers en beveel hulle om op die sak te slaan. Hulle het die duiwel behoorlik plat geslaan, en voordat hulle hom laat loop het, moes hy belowe dat hy die smid nie weer sou lastig val nie.

Van daardie tyd is hy bang vir ʼn sak. (In die Vrystaat, volgens een bron, is daar ʼn soutsakweergawe van hierdie verhaal.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.