Uitdrukking: Soveel weet van iets as die man in die maan

Argieffoto (Foto: Patricia Alexandre/Pixabay)

Uitdrukking:
Soveel van iets weet as die man in die maan

Betekenis:
Heeltemal niks van iets weet nie

Waar kom dit vandaan?
Deur die eeue het mense die donker vlekke op die maan aan verskeie bekende dinge toegeskryf, soos ‘n haas, leeu, konyn, hond, perdekar en ander. Vir party is dit ‘n man wat op ‘n hooivurk leun waarop daar ‘n bondel stokke is.

Dit is ontleen aan Num 15:32-36 in die Bybel waar só ‘n houtdraer gestenig is omdat hy sy vrag op die Sabbat bymekaar gemaak het. Skynbaar is hy vir dié groep toe na die maan verban.

By Dante is hy Kaïn met sy hond en ‘n doringbos waarin hy verstrik is as gevolg van sy misdaad en vir die Franse is dit Judas Iskariot.

In Groenland is daar ‘n prettige legende hieroor. Die Groenlanders glo dat die son en die maan broer en suster is. Eendag toe hulle saam met ander kinders in die donker gespeel het, het Aninga (die maan) sy suster in wellus gegryp. Sy het haar so vererg dat sy van die roet van die lamp gevat en aan haar broer se gesig gesmeer het sodat sy in die daglig sou kon sien wie die skuldige was. Dit verklaar die swart kolle op die maan. Sy het opgestyg en die son geword, en omdat hy nooit so hoog as sy kon kom nie, agtervolg hy haar tot in ewigheid sonder om haar te kan vang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.