Uitdrukking: Vat jou goed en trek, Ferreira

Argieffoto

Argieffoto

Uitdrukking:
Vat jou goed en trek, Ferreira

Betekenis:
Maak dat jy wegkom!

Waar kom dit vandaan?
Uit Die Boervrou van Oktober 1926 die volgende (opsommende) verduideliking:

Mev. Annie Malony was die skryfster van die wysie van Vat jou goed en trek, Ferreira. Sy was die moeder van 20 kinders en was die eerste vrou wat saans by feestelikhede in Johannesburg klavier gespeel het.

Toe sy in Suid-Afrika aangekom het, het sy by ‘n ryk boer in die distrik Somerset-Oos, ‘n mnr. Van Aardt tuisgegaan. Langsaan Van Aardt het ‘n Ferreira gewoon met die bynaam Hoepelbeen (omdat sy een been korter as die ander was). Van Aardt het Ferreira se plaas vir kontant gekoop, maar watookal Van Aardt gedoen het, kon hy Ferreira nie sover kry om die plaas te verlaat nie.

Dit was later die grap van die buurt en ‘n verleentheid vir die nuwe eienaar. Annie Malony en Ada van Aardt (die dogter van die ryk boer) het ‘n plan gemaak.

Ada het die woorde van Vat jou goed en trek, Ferreira geskryf, en mev. Malony het dit getoonset. Die twee nooi toe die hele buurt na ‘n dans toe – en Ferreira was ook daar. Annie het die liedjie gesing, en naderhand het almal saamgesing, wel wetende waarop dit sinspeel.

Ou Hoepelbeen Ferreira was woedend en het die dans verlaat. Die volgende dag was daar net stofwolke soos Ferreira besig was om op te pak – gedwing deur die liedjie waarin sy naam verewig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Assie Van der Westhuizen ·

Met verwysing na die beriggie hierbo oor die ontstaan van die liedjie ,Vat jou goed en trek, Ferreira’, wonder ek of dié voorval dalk ‘n hele paar jaat vroeër plaasgevind het, en dit net eers in 1926 in Die Boervrou gepubliseer is? Uit die Streeksgeskiedenis van die gebied rondom Upington en Kanoneiland, het ek verneem dat daar tydens die Rebellie van 1913/4 ‘n Ferreira vanuit die destydse Duitswes gekom het, en probeer het om die boere van dié omgewing om te praat om ‘n militêre kommando op die been te bring in opstand teen die Unie-regering. Die mense het egter die gedagte verwerp, en vir hom ,Vat jou goed en trek Ferreira’ toegesing. .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.