Voel soos ‘n kraai met pouvere

Uitdrukking:
Iemand voel soos ‘n kraai met pouvere

Betekenis:
Ongemaklik voel (Engelse vertaling: like a fish out of water)

Waar kom dit vandaan?
Lank gelede was daar ʼn rustelose kraai wat besluit het om ver van sy huis en vriende af te gaan kuier. Meteens het hy op ʼn paar poue afgekom. Hulle was pragtig! Die kraai het nog nooit vantevore sulke mooi vere gesien nie, en hy het skamerig gevra watter tipe voëls hulle was.

“Ons is poue,” het een van hulle gesê en sommer gepronk met sy stertvere. Die pou het heen en weer geloop om sy vere ten toon te stel.

Die kraai was geweldig beïndruk en het gegroet en weggevlieg, maar hy kon net nie van hierdie mooi vere vergeet nie. “Dit is sulke pragtige vere!” het hy gedink. “Hulle moet baie gelukkig wees omdat hulle so mooi is.” En hy het aan sy eie vaal veertjies gedink.

Die mooi vere het dag na dag by hom gespook. Dit was so erg dat hy later nie eers meer homself in die weerkaatsing van die water wou aanskou nie. Hy was vir homself baie lelik.

Hy het toe die poue begin afloer, en hoe meer hy na hulle gekyk het, hoe meer het sy jaloesie toegeneem.

Op ʼn dag het hy opgemerk dat een van die poue ʼn veer verloor het! Toe die son ondergaan, het hy stilletjies die veer gaan optel en dit gaan wegsteek. Elke dag het hy die poue dopgehou, en elke keer ʼn verlore veer gaan bêre. Toe hy uiteindelik vier vere bymekaargemaak het, kon hy nie meer wag nie. Hy het met boomgom die vere aan sy eie stert vasgemaak en op en af begin paradeer in ʼn poging om sy vriende te beïndruk:

“Kyk my pragtige stert!” het hy met trots aangekondig. “Ek is nie so lelik soos julle nie!”

Maar die kraaie se bewondering het haas in verontwaardiging verander. Die kraaie het vir hom begin lag en hom uitgejou: “Jy is niks anders as ʼn kraai nie – selfs nie met pronkende vere nie!” het hulle gesê.

“En julle is laf en lelik,” het die kraai hoogmoedig aangekondig en hy het weggevlieg om saam met die poue te gaan bly. By die poue aangekom, het die poue aanvanklik gereken dié vreemde nuwe voël is seker maar ʼn pou wat al sy vere verloor het, en hulle het hom bejammer. Maar die kraai het nou – meer hoogmoedig as ooit vantevore – besluit om meer aandag te trek. Hy het netsoos die poue probeer skree wanneer hulle hul vere vertoon, maar die skril “Craw! Craw! Craw!” het die kraai haas verklap! Die kwaai poue het die gesteelde vere afgepluk en die kraai weggejaag.

Hartseer en teleurgesteld het die kraai teruggekeer na sy vriende, maar hulle het hom ook toegesnou. Niemand wou met hom praat nie, en nie een van die kraaie wou hom vergewe omdat hy probeer het om iets anders as net homself te wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.