Woord: Jan en die ander

Argieffoto

Argieffoto

Een van die gewoonste mansname, Jan, word in baie uitdrukkings in Afrikaans gebruik:

Jan Alleman (Jan en alleman): die deursneepersoon
Jan Balie: persoon met ‘n groot maag
Liewer bang Jan as dooi(e) Jan: liewer versigtig as dood
Jan Burger: die gewone burger
jandooi: dooierige persoon sonder energie; slaapkous: ‘n regte ou jandooi; so ‘n ou jandooi sal nooit vrou kry nie
jandorie: minder gewoon vir gedoriewaar
jangroentjie: nuweling aan ‘n inrigting; groentjie
janhen: vrouagtige man
Jan Kalbas: sukkelaar
Jan Kieser: die gewone stemgeregtigde burger
janklaas: hanswors, grapmaker
Jan Kompanjie (histories): die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie
Jan Laventel: opgetooide, spoggerig aangetrekte kêrel
Jan Lui: ‘n lui persoon
Mal Jan onder die hoenders: enigste man tussen ‘n aantal dames
Jan Pampoen: niksbeduidende vent, stommerik
Jan, Piet (Paul) en Klaas: elkeen, almal
Jan Publiek: die groot massa
janrap: niksbeduidende persoon; persoon van lae afkoms
Jan Rap en sy maat: elkeen, almal sonder onderskeid; die gespuis
Jan Salie (ook jansalie): papbroek, lamsak; persoon sonder fut
Jan Taks: die minister van finansies of die belastinggaarder
Met Jan Tuisbly se karretjie gaan: nie iewers heen gaan nie, tuisbly – veral teen kinders gesê

OOK:
Jantjie Gou-Gou: haastige persoon
Jantjie Sekuur: besonder presiese, noukeurige persoon
jantjie-sonder-erg: onbekommerde persoon wat ongeërg sy gang gaan
jantjie-van-alles: iemand wat allerhande werkies kan doen; faktotum

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.