Inheemse veeltaligheid: Die mens is die taal wat hy praat

Prof. Hans du Plessis. (Foto: Maroela Media/Janie Monsieur)

Gebaretaal moet nou glo ook as ʼn nasionale amptelike taal in Suid-Afrika erken word. Uitstekende idee. Net jammer dat al wat dit in ons konteks gaan beteken, is dat die regering en die ANC dan elf tale gaan hê om te marginaliseer! En wat dan van die Khoi- en Santale?

Dit gaan in hierdie gesprek om die stand en nut van die verskeidenheid inheemse tale in Suid-Afrika, al is gebaretaal nie inheems nie. Eintlik sou ons die gesprek moes begin deur sinies te verklaar dat inheemse tale in Suid-Afrika in die praktyk geen status het nie, al sê die Grondwet wat. Selfs die agbare hoofregter steur hom min aan die Grondwet en bevestig die hegemonie van Engels in ons howe.

Die huidige stand van inheemse tale voorspel in elk geval ʼn kulturele en intellektuele ramp. Dit is egter so ʼn belangrike kwessie dat ons dit nie kan ignoreer nie. Daarom sal ek dit tog waag om ʼn konstruktiewe gesprek oor die status van ons inheemse tale aan die gang te probeer sit.

Ter wille van ʼn bietjie struktuur kan ons eers verduidelik wat ons met inheemse taal bedoel, voordat ons na die status van inheemse tale in ons land kyk.

Wat is ’n inheemse taal?

Daar is geen definisie vir inheemse tale in ons Grondwet nie en ons sal daarom moet staatmaak op algemene definisies wat byna sonder uitsondering stel dat dit op ʼn bepaalde plek ontstaan het en nie van buite ingevoer is nie. Dit is dus eie aan ʼn streek en dit word oor vele geslagte deur ʼn inheemse gemeenskap gepraat. Die probleem is dat woorde soos “inheems” en “vele geslagte” net vaag genoeg is om ʼn mens te verwar.

Ek glo nie iemand sal wonder hoekom ons die Khoi- en Santale as inheems klassifiseer nie – hulle was immers in Suider-Afrika nog voor die geskrewe geskiedenis. Dieselfde geld vir die nege amptelike Suid-Afrikaanse Afrikatale. Al sou hulle elders in Afrika ontstaan het, is hul sprekers reeds geslagte lank hier. Streng gesproke is Afrikaans en die Khoi- en Santale ook Afrikatale, terwyl die swart tale internasionaal bekend staan as Bantoetale, met verwysing na die grammatikale struktuur van die betrokke tale. Dit verwys na, onder meer, die voorvoegsels by die klasstelsel van selfstandige naamwoorde. Dit is egter nie die grammatika van ʼn taal wat daarvan ʼn inheemse taal maak nie, maar die oorsprong en die sprekers daarvan. Afrikaans, byvoorbeeld, is ʼn inheemse Suid-Afrikaanse taal, maar dit vertoon nie die grammatikale struktuur van ander tale uit Afrika nie.

Die geskiedenis van Afrikaans toon duidelik aan dat Afrikaans as onafhanklike taal in Suid-Afrika ontstaan het en nie deur sy sprekers as dialek van Nederlands beskou word nie. Afrikaans is inheems omdat dit in Afrika gevorm is deur Europese koloniste, Afrika-Khoi en Khoi-San met die verdure belangrike bydrae van slawe, veral uit die Ooste. Die verwantskap, daarenteen, van Engels in Suid-Afrika met Engels elders in die wêreld, word byvoorbeeld nie bevraagteken nie, want die naelstring met die brontaal is nie deur die sprekers daarvan geknip nie. Sodra die naelstring geknip word, vervaag die verhouding met die brontaal en ʼn nuwe taalgemeenskap kom tot stand, nuwe mites word geskep en ʼn nuwe identiteit word gebore. Aangesien Afrikaans in Afrika gebore is, selfs vóór kolonisasie, het die sprekers van Afrikaans die naelstring met die Germaanse tale geknip. Selfs die meeste Khoi en San van die Kaapse Voorpos het die naelstring met Khoi- en Santale afgesny en veral in die loop van die agtiende eeu Afrikaans as moedertaal aangeneem. So word Afrikaans Suid-Afrika se reënboogkind, met die moeder in Europa gebore en die pa in Afrika.

Die de facto-status van enige taal word in wese deur sy eie primêre of moedertaalgemeenskap bepaal. Daar is, byvoorbeeld, taalkundiges waar die drie Sothotale as drie dialekte van Sesotho beskou, maar my eie waarneming is dat die moedertaalsprekers van die betrokke tale elkeen as ʼn volwaardige taal en nie as ʼn dialek nie aanvaar is.

Teen hierdie agtergrond is daar in Suid-Afrika meer as tien inheemse tale, maar wat nie Afrikatale in die populêre sin van die woord is nie, hoewel hulle tale van Afrika is.

Die status van inheemse tale

Die erkenning van elf amptelike tale in ons Grondwet veronderstel ʼn linguistiese demokrasie. Die onderhandelde taaloplossing wat veeltaligheid erken, huisves ongelukkig terselfdertyd ook die taalprobleme waarmee ons gekonfronteer word. ʼn Taalbedeling van elf amptelike nasionale tale is voorwaar ʼn groot uitdaging, maar ook hierin is Suid-Afrika nie uniek nie. Daar is baie voorbeelde van linguistiese diversiteit oral in die wêreld. Nigerië het, byvoorbeeld, meer as 500 tale.

Taaldiversiteit maak van taalbeplanning ʼn brandende kwessie in die postkoloniale era en Afrikalande het oor die afgelope jare al meer bewus begin raak van hul linguistiese erfenis, wat lei tot ʼn groeiende bewuswording van veeltaligheid. Dit spreek byvoorbeeld uit die Afrika-unie (AU) se erkenning van alle Afrikatale as amptelike tale en die verklaring van 2006 as die jaar van Afrikatale.

Ons Grondwet bevorder taaldiversiteit en dit word deur verskeie artikels daarvan beskerm, byvoorbeeld in artikel 6 van hoofstuk I en artikel 30 en 31 van hoofstuk 2. Dit is belangrik om daarop te let dat artikel 30 en 31 deel is van ons Handves van Menseregte. Die opstellers van ons Grondwet het taalregte as belangrik genoeg beskou om dit as ʼn fundamentele reg te verskans.

Dit is ongelukkig nie naastenby die status wat ons inheemse tale vandag in die Suid-Afrikaanse praktyk geniet nie. Taalgelykheid impliseer immers dat al elf die amptelike tale as skryf- en spreektale op alle gebruiksvlakke vry moet kan funksioneer. Dit beteken dat alle amptelike tale ook ongehinderd as taal van regering op alle vlakke – die onderwys, religie, handel en die reg – gebruik moet kan word.

Al is ʼn taalbedeling van elf amptelike tale ʼn uiters kreatiewe oplossing vir Suid-Afrika, is dit in praktyk hoogs problematies. Die gebrek aan duidelike riglyne vir die praktiese toepassing van die kreatiewe idee, het byvoorbeeld tot die totale dominansie van Engels gelei. Besigheid en die regering se antwoord op die logiese vraag “Hoekom net altyd Engels?” is gewoonlik die gerieflike: “Ons kan nie al elf tale gebruik nie, en die meeste mense in Suid-Afrika kan in ieder geval Engels verstaan.”

Die teenoorgestelde is egter nader aan die waarheid: Meer as 50% van Suid-Afrikaners verstaan waarskynlik nie Engels of Afrikaans behoorlik nie. Om dus slegs Engels (en/of Afrikaans) vir amptelike kommunikasie te gebruik, is daarom ʼn gruwelike skending van die meerderheid Suid-Afrikaners se fundamentele reg en boonop ongrondwetlik.

Nege van die inheemse tale in Suid-Afrika se status is in dieselfde onbenydenswaardige posisie as voor 1994, terwyl Afrikaans in ʼn veel swakker posisie is as waarin dit was.

Is inheemse tale dan hoegenaamd nodig?

Dat die inheemse tale in Suid-Afrika gemarginaliseer word, is ʼn feit, maar is sodanige verlaagde status ooit ʼn probleem? Hoekom sou dit ʼn probleem wees? Eentaligheid is tog die logiese oplossing omdat dit goedkoop is, en Engels is in elk geval die enigste van al die Suid-Afrikaanse amptelike tale wat ook ʼn wêreldtaal is. Sal dit dan nie beter wees om net een amptelike nasionale taal te hê nie?

Taal is egter meer as kommunikasie, want die mens is die taal wat hy of sy praat. Dit is eenvoudig kultuur en kultuur is nou maar eenmaal identiteit. Ek is die storie wat ek van myself vertel, ʼn gemeenskap is die narratief of die verhaal wat hy van homself glo en die storie wat ʼn demokratiese Suid-Afrika van homself vertel, is die een van eenheid in verskeidenheid. En verskeidenheid is eenvoudig duurder as eenvormigheid.

In Suid-Afrika probeer ons, so lyk dit vir my, ʼn nuwe nasie sonder ʼn storie bou. Die storie wat ons van onsself vertel, word die droom waarna ons streef. Miskien is ons grootste probleem juis dit dat ons as Suid-Afrikaanse nasie sukkel om ʼn droom te formuleer omdat ons self nog nie ons eie storie van eenheid in verskeidenheid glo nie. Ons het nie ʼn droom nie, want ons het nie ʼn storie nie, want ons bly stry oor wie se storie die ware verhaal is. Intussen is die storie van ons land en sy mense ʼn lappieskombers van stories wat eers kombers kan word as die lappies aan mekaar gestik is. Een jakkalsvel maak nie ʼn karos nie.

Die storie wat elke individu van haar- of homself wil vertel, word die beste vertel in haar of sy moedertaal. Die storie van die Bapedi behoort in Sepedi vertel te word. Omdat ek Afrikaans is, wil ek my storie in Afrikaans vir jou vertel. Die storie van die Suid-Afrikaanse nasie behoort in die reënboog van al ons inheemse tale vertel te word.

My bydrae tot ʼn beter Suid-Afrika en ʼn Suid-Afrikaanse nasie sal ek die heel beste in my inheemse moedertaal, Afrikaans, kan lewer. Ter wille van ʼn suksesvolle Suid-Afrika moet elke mens toegelaat word om hul storie ongehinderd in hul moedertaal te vertel. Ek droom en ek skep die graagste in die taal wat ek by my ma geleer het. Laat my toe om dit ongehinderd te doen.

Ten slotte

Die toekoms van ʼn suksesvolle Suid-Afrika lê in sy diversiteit maar juis in die eenheid daarvan. Ons diversiteit is ʼn historiese gegewe, eenheid is ons gemeenskaplike droom. Taaldiversiteit is ons werklikheid, veeltaligheid ons toekomsdroom, maar drome is duur. Om die droom van praktiese meertaligheid te kan bekostig, moet ons op ʼn enorme skaal in die skep van onafhanklike akademies vir vertalers en tolke belê, want eentaligheid is die resep vir intellektuele bankrotskap.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Hans Du Plessis

Hans du Plessis is ‘n woordmens van formaat: taalkundige, skrywer, digter, navorser, akademikus en dramaturg. Hy het groot bekendheid verwerf met sy bundels Griekwapsalms.

Deel van: Afrikaans, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ou Baardbek ·

As daar nou ooit tevore al ‘n volledig gefundeerde en beredeneerde artikel was, dan is dit dié een!! U spreek PRESIES aan wat ons, (dalk net sommiges?), as Afrikaners se ononderhandelbare oortuiging is. ‘n Persoonlike gesprek met u sal voorwaar ‘n belewenis wees om saam te dra na die “lang bome” toe! Baie dankie vir u insig, en veral die deel daarvan!

annie ·

… en professor die toring van Babel word weer gebou so saam met ons-almal-is-dieselfde en volg die nuwe orde se program soos robotte. Almal wat Arikaans praat is ook nie dieselfde nie. Dis ‘n te maklike anwoord.

Johannes ·

Hans du Plessis probeer te hard om polities byderwets te wees. Die mite dat Afrikaans ‘n halfeeu voor Jan van Riebeeck se aankoms in 1652 ontstaan het, is deur Christo van Rensburg geskep om die leeue-aandeel van Afrikaners te misken. Dieselfde geld die oorbeklemtoning van die bydrae van die Khoi-San en die slawe en die karakterisering van Afrikaans as ‘n kombuistaal. Die naelstring met die Germaanse tale is nooit geknip nie. Dit is juis een van die griewe van die teenstanders van Standaardafrikaans dat die Taalkommissie hom steeds deur veral Nederlands laat lei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.