Internasionale Moedertaaldag: ‘Ons doen dit in Afrikaans’

Akademia. Foto: Verskaf.

Internasionale Moedertaaldag, ʼn inisiatief deur die Verenigde Nasies, word jaarliks wêreldwyd op 21 Februarie gevier. Klem word veral gelê op die belangrike rol wat veeltaligheid in volhoubare ontwikkeling speel. Die Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia vier hierdie dag om bewusmaking te skep dat taaldiversiteit grootliks bevorder kan word deur die behoud en bevordering van moedertaalonderrig.

Suid-Afrika is ʼn veelsydige land wat bestaan uit ʼn rykdom van kulture en gemeenskappe. Hierdie veelsydigheid word veral versinnebeeld in die elf amptelike tale wat in Suid-Afrika gepraat word. Hierbenewens word beraam dat daar tot soveel as 35 verskillende dialekte in Suid-Afrika voorkom. Naas Zulu (23%) en Xhosa (16%), is Afrikaans die moedertaal van nagenoeg 14% van Suid-Afrikaners. Daar is dus ongeveer sewe miljoen mense in Suid-Afrika wat Afrikaans as moedertaal koester.[1]

“ ʼn Moedertaal is die eerste taal waarmee ʼn mens ná geboorte kennis maak, en dit ontwikkel meestal ongehinderd as ʼn integrale deel van elke mens se onderbewussyn, denke en bestaan,” meen professor Hannes Rautenbach, dekaan van die fakulteit natuurwetenskappe by Akademia.

“Hierbenewens skep ons moedertale ook ruimtes van geborgenheid waarbinne ons meestal op ons tuiste voel.”

Verskeie studies het al getoon dat moedertaalonderrig aanleiding gee tot gesonder identiteitsvorming, identiteitsbesef, selfvertroue en gevolglik ook tot groter akademiese en sosiale uitnemendheid.[2] Dit is alombekend dat dit vir leerders wat onderrig in hul moedertaal ontvang, veel makliker is om kennis na ʼn tweede, derde en selfs meer tale oor te dra. Dit is ook bekend dat abstrakte konsepte wat in ʼn moedertaal geleer word, makliker verstaanbaar is en meer oordraagbaar is na ander tale, omdat kognitiewe ontwikkeling juis in die moedertaal verhoog word.

Rautenbach vertel dat Akademia daarop roem dat hy aan sy Afrikaanssprekendes ʼn geleentheid bied om op naskoolse vlak verdere onderrig in Afrikaans te kan ontvang. Akademia is daarom trots om Moedertaaldag saam met internasionale gemeenskappe te vier.

“Hoër onderwys in Afrikaans bevoordeel nie net studente nie, maar bied ook aan alle Afrikaanssprekendes ʼn platform vanwaar Afrikaans as lewendige akademiese en wetenskapstaal verder kan ontwikkel. So word volhoubare ontwikkeling bevorder.”

Akademia vorm deel van die groter versameling van taalgemeenskappe in Suid-Afrika.

“Om doeltreffend by hierdie groter versameling in te skakel, is dit van groot belang dat Afrikaanssprekendes goeie kommunikasievaardighede in ander nasionale en internasionale spreektale aanleer,” sê Rautenbach.

Selfs van groter belang, volgens Rautenbach, is dat Akademia en Afrikaanssprekendes op Moedertaaldag die waarde van moedertaalonderrig na ander taalgemeenskappe uitbasuin. Dit kan gedoen word deur die volgende treffende aanhaling in Engels, die vierde grootste huistaal in Suid-Afrika, wat deur feitlik alle gemeenskappe verstaan word:

Let us all prosper through mother tongue education. We do it in Afrikaans, how do you do it?

Voetnota:

[1] SouthAfrica-info.com

[2] Scielo.org.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vriendelike Frikkie ·

Hier by Denel mag jy gladnie Afrikaans praat nie. “It is frowned upon”. Vanoggend kry ons ‘n motiverende skrywe wat vra dat ons vele tale moet praat omdat dit die volhoubare ontwikkeling van Denel aan die hand kan werk. Nou is ek deurmekaar soos ‘n verkleurmannetjie op ‘n Smartiebox. In die verlede was daar al verwys na “victims” as iemand Afrikaans moes aanhoor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.