Internasionale steun vir veldtog teen nuwe taalbeleid

JM Coetzee. Foto: Verskaf

JM Coetzee. Foto: Verskaf

Die Nobelpryswenner, JM Coetzee en die bekende Britse oud-diplomaat, lord Robin Renwick, het onlangs hul steun verleen aan die Gelyke Kanse-veldtog om Afrikaans se gelyke status met Engels as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch te behou.

Die veldtog spruit uit pogings van die bestuurspan van die US om die universiteit te verengels. ʼn Verengelsing-dokument, wat verlede November deur die span uitgereik is, is kort daarna weens wydverspreide openbare teenstand deur die US-Raad gerepudieer. Op 21 Maart het die bestuurspan egter ʼn nuwe konsep-taalbeleid in effens verwaterde vorm uitgereik, sonder dat hulle die Raad se voorskrif oor ʼn taalkomitee gevolg het en ook nie oorleg gepleeg het met AfriForum nadat ʼn hofskikking in hierdie verband bereik is nie.

Adv. Jan Heunis, woordvoerder van die veldtog, sê die groep kry positiewe terugvoer van ʼn wye verskeidenheid mense en groepe wat teen die afskaal van en selfs aanslag teen Afrikaans gekant is. “Die veldtog kry dwarsoor Suid-Afrika en uit die buiteland ondersteuning vanweë die relevante grondwetlike kwessies van menseregte, gelykwaardigheid en veeltaligheid wat groot belangstelling uitgelok het,” het hy gesê.

Coetzee, bekroonde Suid-Afrikaanse  skrywer wat deesdae in Australië woon en Renwick, voormalige hoë kommissaris in Suid-Afrika wat in Londen woon,  tel onder honderde mense wat reeds die beswaarskrif by Gelyke Kanse onderteken het.

Die sperdatum vir kommentaar op die nuwe konsep-taalplan is Vrydag 22 April, terwyl ʼn aansoek van Afriforum Jeug om ʼn interdik teen die US om die huidige ongeldige proses te stuit, intussen tot 19 Mei 2016 uitgestel is.

Skerp kritiek teen die voorgestelde nuwe taalbeleid is onder andere uitgespreek deur die skrywer, Breyten Breytenbach, wat ʼn groot aandeel in die nuwe veldtog het. Die US het gesê hy sal eers later reageer.

Besoek die Gelyke Kanse-veldtog se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Veritas ·

Maties of ‘Mateys, se bestuur het ‘n lat vir hulself gepluk. Hoe gaan hulle nou maak om albei kante, van die taaldebat, tevrede te stel?

hans ·

Kon nog nooit verstaan waarom US so aktief studente by Engelse skole in bv KZN gaan ‘werf’ het terwyl daar so baie Afriikaans sprekende skoliere in Wes-Kaap/Noord-Kaap/Gauteng/Namibie ens is.

Johanned Cilliers ·

Hans, dit is vir my baie duidelik dat dit gedoen is sodat US se studente die bevolkingsamestelling van die land kan weerspieël, soos wat oral deur die ANC vereis word.

david ras ·

Ek stem nogal saam met jou mening Johannes. Daarom wonder ek of dit nie veel makliker sou gewees het as die Hoeveelheid univeritieite aan daardie vereistes kon voldoen nie—-
bv Blankes is ongeveer 8% van die bevolking
Daar is soos ek verneem 32 universiteite in SA . Dus is 8% van 32 mos 2.8 . . Om oorbevolking te vehoed sou 3 universiteite mos voldoen ?
In die suide van die Land, Stellenbosch, in die sentrale deel UOVS, en in die noorde Potchefstroom .
Ons het hulle in elk geval gebou en dekades lank onderhou–met blanke belastingeld …
Wat sou die beswaar dan wees ?

John ·

Ons geagte skrywer, laat ons Afrikaanssprekendes verbaas staan met sy skielike ondersteuning van Afrikaans, want hy het deur die jare baie negatiewe uitsprake gemaak oor die Afrikaners. Hy kon ook nie gou genoeg die land verlaat toe donker wolke op die horison koek nie. Sedert die Sestigers dit hul taak gemaak het om Afrikaans en Apartheid in een sin te smee, was hul werk deurspek met ‘n verkleinering van die Afrikaners, hul eie bloedbroers. Nou wil hulle die taal red, met groot ophef. Wat noem ons nou die’ nuwe taalbeweging, Gelyke Kanse. Coetzee skryf nie in Afrikaans nie. Hy is groter as die taaltjie waarin hy grootgeword het. Interessant tog dat bloed dikker as water is en as die grys hare dunner word, die eie aard weer roep, soos by ons ridder op die ysterperd wat uit Parys tot in Stellenbosch gallop het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.