Internasionale Woordeboekdag: Borg ‘n woord!

Dave Pepler, omgewingskundige en TV-aanbieder is vanjaar die beskermheer van die WAT se Borg 'n Woord-projek

Dave Pepler, omgewingskundige en TV-aanbieder is vanjaar die beskermheer van die WAT se Borg ‘n Woord-projek

“Bemagtig jouself, jou man, jou vrou, jou kinders of jou geliefde met ‘n nuwe woordeboek. Dit is een van die beste beleggings wat enigiemand kan maak”.

Só sê dr. Willem Botha, uitvoerende direkteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Volgens hom koop baie mense een of miskien twee keer in hulle lewe ‘n nuwe woordeboek, maar daar is benewens gedrukte woordeboeke ook opwindende elektroniese woordeboeke beskikbaar – selfs op jou selfoon! Sommige woordeboeke op die internet is gratis, terwyl ander jaarliks op ingeteken moet word.

Vandag is Internasionale Woordeboekdag en die WAT stuur jaarliks sy Borg ‘n Woord-projek van stapel. Borg ‘n Woord het een van die WAT se lewenslyne geword in sy oorlewingstryd weens die drastiese inkorting van die staatsubsidie. Die WAT moet tans jaarliks R3,5 miljoen self genereer om sy begroting van R5 miljoen te laat klop. Borg ‘n Woord is een van verskeie fondswerwingsinisiatiewe van die WAT.

Dave Pepler, omgewingskundige en TV-aanbieder, is vanjaar die beskermheer van Borg ‘n Woord en hy doen die volgende beroep op alle Afrikaanssprekendes: “Hoekom is Afrikaans vir my kosbaar? Sonder Afrikaans met sy lieflike en aardse woorde is ek niks nie. As jy ook lief is vir Afrikaans: borg ‘n woord, borg ruim!”

Deelnemers kan enige Afrikaanse woord borg vir R100 en kwalifiseer dan vir die prystrekking vir ‘n Sanlambelegging van R25 000. Elke deelnemer ontvang ook ‘n sertifikaat van die WAT met sy naam en die woord of woorde wat hy geborg het. Borgskappe van R5 000 per woord is eksklusief en niemand anders mag daardie woorde borg nie. Net meer as 150 woorde is reeds eksklusief geborg. Teen R100 kan meer as een persoon dieselfde woord borg, maar elkeen kry ‘n sertifikaat met sy naam daarby. Volledige inligting oor Borg ‘n Woord is te kry by www.wat.co.za, of bel 021 8873113 of skryf aan [email protected]

Noah Webster is op 16 Oktober gebore en Woordeboekdag word internasionaal ter ere van hierdie beroemde Amerikaanse woordeboekmaker gevier. Hy was ‘n briljante leerder wat op 15-jarige ouderdom aan die Yale Universiteit begin studeer het. Later word hy die samesteller van die eerste Amerikaanse woordeboek en hy word dus beskou as die vader van die Amerikaanse leksikografie. Die doel van Woordeboekdag is om mense opnuut bewus te maak van die belangrikheid en onmisbaarheid van woordeboeke as inligtingsbronne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Snip ·

Wonderlik! Ek dink ek gaan die volgende woord borg. Dit is een van daai saamgevoegde woorde wat ‘n koppelteken mòèt kry, om homself te indentifiseer.

Veiligheidsaksies
Is dit nou “veiligheids-aksies”
Of is dit “veiligheid-saksies”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.