Internasionale woordeboekdag

Nataniël is vanjaar die ondersteunende kunstenaar van Borg 'n Woord.

Nataniël is vanjaar die ondersteunende kunstenaar van Borg ‘n Woord.

16 Oktober is Woordeboekdag en dit is ook die dag waarop die Woordeboek van die Afrikaanse Taal jaarliks sy projek Borg ‘n Woord van stapel stuur.

Noah Webster is op 16 Oktober gebore en Woordeboekdag word internasionaal ter ere van hierdie beroemde Amerikaanse woordeboekmaker gevier. Noah was ‘n briljante leerder wat op 15 jarige ouderdom aan die Yale Universiteit begin studeer het. Later word hy die samesteller van die eerste Amerikaanse woordeboek en hy word dus beskou as die vader van die Amerikaanse leksikografie. Die doel van Woordeboekdag is om mense opnuut bewus te maak van die belangrikheid en onmisbaarheid van woordeboeke as inligtingsbronne.

Dr. Willem Botha, uitvoerende direkteur van die WAT, se boodskap op Woordeboekdag is: “Bemagtig jouself, jou man, jou vrou, jou kinders of jou geliefde met ‘n nuwe woordeboek. Dit is een van die beste beleggings wat enigiemand kan maak“. Volgens hom koop baie mense een of miskien twee keer in hulle lewe ‘n nuwe woordeboek. Daardie woordeboek is dan net ‘n frustrasie omdat die verlangde inligting meestal nie daarin is nie. Daar is benewens gedrukte woordeboeke ook opwindende elektroniese woordeboeke beskikbaar – selfs op jou selfoon. Sommige woordeboeke op die internet is gratis, terwyl ander jaarliks op ingeteken moet word.

Borg ‘n Woord het een van die WAT se lewenslyne geword in sy oorlewingstryd weens die drastiese inkorting van die staatsubsidie. Die WAT moet tans jaarliks R3 miljoen self genereer om sy begroting van R4,5 te laat klop. Borg ‘n Woord is die gedagte van Frans Stroebel, jare lange persoonlike assistent van dr. Anton Rupert, en is een van verskeie fondswerwingsinisiatiewe van die WAT.

Nataniël is vanjaar die ondersteunende kunstenaar van Borg ‘n Woord en hy doen die volgende oproep op alle Afrikaanssprekendes: “Al is jy vyftien tale magtig maak Afrikaans jou uniek, ‘n oop klank, ‘n ontploffende ritme en ‘n verfrissende, direkte trefkrag. Vry of baklei, dit bly ‘n groeiende, jong klankbord! Maak ‘n woord jou eie, koop ‘n klank, borg ‘n gedagte, doen dit net nou!

Deelnemers kan enige Afrikaanse woord borg vir R100 en kwalifiseer dan vir die prystrekking vir ‘n Sanlambelegging van R25 000. Elke deelnemer ontvang ook ‘n sertifikaat van die WAT met sy naam en die woord of woorde wat hy geborg het. Borgskappe van R5 000 per woord is eksklusief en niemand anders mag daardie woorde borg nie. Net meer as ‘n honderd woorde is reeds eksklusief geborg. Teen R100 kan meer as een persoon dieselfde woord borg, maar elkeen kry ‘n sertifikaat met sy naam daarby.

Klik hier vir volledige inligting oor Borg ‘n Woord of bel 021 887 3113 of skryf aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.