Is ʼn ‘poep’ abstrak? – Abstrakte selfstandige naamwoorde

Argieffoto

Kry nou anderdag ʼn navraag van ʼn leerder – hulle moes die verskillende soorte selfstandige naamwoorde in die klas identifiseer, en hulle het geleer ʼn abstrakte selfstandige naamwoord is ʼn ding wat jy nie kan sien nie. Nou wil hulle weet: Is ʼn “poep” ʼn abstrakte selfstandige naamwoord?

Die gender en die ouderdom van die navraer in ag genome, vermoed ek die vraag was meer ʼn poging om my te verbouereer as om inligting oor selfstandige naamwoorde te bekom. Dit verg ongelukkig (vir die navraer) meer as ʼn “poep” om my te verbouereer, maar daar is tog ʼn element van geldigheid in die navraag: Daar is, selfs by ervare praktisyns, verwarring oor watter woorde abstrakte selfstandige naamwoorde is en ʼn onkunde oor hoe om dit te identifiseer.

Die skoolvoorbeelde van abstrakte selfstandige naamwoorde wat ons almal geleer het, is natuurlik “liefde” en “haat”. Dis akkuraat, want dis goed wat net in jou kop sit en wat jy net kan beleef, maar vir die meeste tieners is nie een van die twee ʼn abstraksie nie. (As jy met ʼn tiener in jou huis sit wat vir die eerste keer verlief is, of vir die hoeveelste keer moet detensie sit oor hy/sy in die klas gepraat het, sal jy ook nie dink liefde en haat is abstraksies nie.) Dit is dus nodig om met ʼn behoorlike beskrywing en toets vir abstrakte selfstandige naamwoorde vorendag te kom waarmee leerders hierdie woordsoort behoorlik kan identifiseer.

ʼn Abstrakte selfstandige naamwoord het twee onderskeidende eienskappe: Dit kan nie getel word nie, en dit kan nie sintuiglik waargeneem word nie. Albei moet geld.

Kom ons begin by die telbaarheid. Die implikasie van ontelbaarheid is dat so ʼn woord nie ʼn meervoud kan kry nie, want daar kan nie meer as een daarvan wees nie, en dat dit ook nie ná ʼn onbepaalde lidwoord (ʼn) kan staan nie, want daar kan nie net een daarvan wees nie. ʼn Soortnaamwoord soos “kat” is iets wat jy kan tel. Daar kan een kat of twee katte of honderde katte in ʼn huis wees, wat beteken dat ʼn mens ʼn sin kan maak soos “Daar sit ʼn kat op die vensterbank.” Lesers weet almal dit beteken “een kat”. Jy kan nie ʼn sin maak soos “Ek het vir die eerste keer ʼn liefde in my hart gevoel” nie. Jy kan wel skryf “Ek het vir die eerste keer die liefde in my hart gevoel”. Liefde is nie telbaar nie, en jy kan nie een of twee of honderde liefdes voel nie.

Moet nou nie deurmekaar raak nie. As jy ʼn sin maak soos “Hy het deesdae ʼn liefde in sy lewe”, beteken dit eintlik “Hy het deesdae ʼn geliefde in sy lewe”. In hierdie sin verwys “liefde” nie na ʼn gevoel nie, maar na ʼn persoon. Persone kan ʼn mens tel – “liefde” in hierdie voorbeeldsin is dus nie ʼn abstrakte selfstandige naamwoord nie, maar ʼn soortnaamwoord.

Moet ook nie dwaal as daar ʼn maatnaamwoord voor jou abstrakte selfstandige naamwoord is nie. Dit is moontlik om maatnaamwoorde in te span en dit dan te laat lyk en klink asof die ding telbaar is, soos “ʼn sweempie jaloesie”, “nie ʼn druppel liefde nie” of “ʼn tikkie hartseer”. Hou mooi kop: In al hierdie gevalle slaan die onbepaalde lidwoord (en die telbaarheid) net op die maatnaamwoord (“sweempie”, “druppel” en “tikkie”), nie op die abstrakte selfstandige naamwoord nie. Die jaloesie, liefde en hartseer is steeds nie telbaar nie.

Die tweede onderskeidende eienskap van ʼn abstrakte selfstandige naamwoord is dat dit nie sintuiglik waarneembaar is nie. Dit beteken ʼn mens kan dit nie sien, hoor, proe, voel of ruik nie. En net daar dop “poep” die toets. Al is jy hoe skelm met die loslaatslag, jou bure in die klas gaan “poep” een of ander tyd sintuiglik waarneem. Selfs jou temperamentele tiener se waarneembare reaksie op liefde of haat maak dit nie sintuiglik waarneembaar nie. Dis die simptome wat sintuiglik waarneembaar is, nie die kwaal self nie.

Hierdie onderskeidende eienskap is die manier waarop ʼn mens tussen abstrakte selfstandige naamwoorde en massanaamwoorde onderskei. ʼn Massanaamwoord benoem ook ʼn ding wat nie telbaar is nie (soos “sand”, “suiker” en “vleis”), maar ʼn massanaamwoord is sintuiglik waarneembaar. Probeer maar jou volgende beker koffie sonder suiker inwurg, dan sal jy vinnig besef hóé waarneembaar dit is.

Met hierdie twee toetse tot ons beskikking, kan ons vinnig en akkuraat bepaal watter woorde abstrakte selfstandige naamwoorde is. Die vetgedrukte woorde in die volgende sinne is almal abstrakte selfstandige naamwoorde:

  • Daar is net ʼn handbreedte tussen trots en hoogmoed.
  • Die ironie is dat hulle eintlik dieselfde is.
  • Dit verg meer moed en deursettingsvermoë as waaroor die meeste mense beskik.
  • Die uitvloeisel van ongesonde liefde is jaloesie, besitlikheid, afguns en selfs nyd.
  • Hoekom moet ek altyd die slegte nuus oordra?
  • Is dit werklik net ongeduld, of bespeur ek ʼn tikkie onverdraagsaamheid aan jou kant?

Mag die abstraksie vir jou hierna helder wees.
VivA-groete
Sophia

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

John ·

Sjoe Maroela, kan ons nie asseblief tog nog vloekwoorde op ‘n hogere vlak bespreek nie. Dit sal so verfrissend wees. Waarom nie net gesiggies vir ‘like’ nie. ‘Gee alle lesers die geleentheid om hul menings te lug.’ Twak. Wonderlike artikel… fantasties. En dit is die gesig van ons kamma-Afrikaner-web vir onse mense? Wie?

LB ·

Van wanneer af is poep nou ‘n vloekwoord? As jy dit nie kan doen nie gaan jy vloekwoorde begin uitdink! : ) Ek het die artikel baie oulik gevind.

Casper Labuschagne ·

Net abstrak mits jy dit nie hoor of ruik nie. Of abstrak raak dalk brakstraf as jy vir die hond die skuld kan gee.

Geheim ·

Die geheim is om ten minste drie te wees om die aksie te kamoefleer . . . Dan kan niemand agter die kap(p) vd byl kom.

Nettie ·

Is ‘poep’ steeds ‘n abstrakte woord as jy sê iemand het drie poepe na mekaar gelos en dit het vreeslik gestink?

En: kan ‘n mens nie “‘n liefde” ontwikkel vir – byvoorbeeld – diere nie? Wat die word ‘liefde’ dan ‘n nie-abstrakte woord maak?

jabulani. Khambule. ·

liewe mnr, mev. Ja jy doodreg as u se n poep is n abstrakteselfstandigenaamwoorde of afgetrokkeselfstandigenaamwoorde. Ja dis een van rededele of woordesoorte. Groetenis. Jabulani. Khambule.

Navorsing ·

Navorsing het getoon dat ‘n persoon doen dit ongeveer 15-keer per dag. Ook is dit nie-rassisties! Ek het ‘n boerboel gehad wat met die afgaan opvlieg en vervaard rondkyk asof hy wou sê: “En nou, wat het gebeur”?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.