Jan Braai koop “braai” en Nataniël vra “genade” by die WAT

Jan Braai

Jan Braai

Jan Braai, die man agter Suid-Afrika se nasionale Braaidag, het pas die woord braai eksklusief vir R5 000 geborg in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se Borg ‘n Woord-projek. Nataniël se gunstelingwoord is genade (“om baie redes, maar dis die uitroep wat ek die meeste gebruik”), maar hy is ook gek na onverskrokke (“ʼn heerlike woord, byna soos ʼn ontploffing”), soen (“ʼn fantastiese bevel!”), en horologie (“want dis my stokperdjie en groot passie!”).

Die WAT se Borg ʼn Woord-projek, waarin enige persoon ʼn Afrikaanse woord teen R100 per woord kan borg, gryp weer vanjaar Afrikaanssprekendes se verbeelding aan. Oor die afgelope drie jaar is meer as 6 000 woorde geborg terwyl 110 woorde eksklusief geborg is. Vir só ʼn borgskap ontvang jy ʼn sertifikaat met jou naam en die woord of woorde wat jy geborg het en boonop kwalifiseer jy vir ʼn prystrekking vir R25 000 geskenk deur Sanlam. Daar is ook die opsie om ʼn woord eksklusief te borg – teen R5000 – en dan behoort daardie woord slegs aan jou.

Sedert 2004 was daar ʼn drastiese afname in die staatsubsidie van die WAT en hulle moet jaarliks meer as R3 miljoen self genereer. Die WAT is die grootste projek ooit rondom Afrikaans wat sy woordeskat in die wydste omvang weerspieël. Dit beteken dat nie net Standaardafrikaans nie, maar ook die ander variëteite van Afrikaans, soos Kaaps en Namakwalands, en streektaal, geselstaal, vloektaal en die kleurryke skat van Afrikaanse uitdrukkings in die WAT tereg kom.

Nataniël is die ondersteunende kunstenaar van Borg ‘n Woord vir 2013 – 2014 en hy spoor op kenmerkende manier Afrikaanssprekendes aan om deel te neem: Taal en die goeie gebruik daarvan is dit wat ʼn individu ʼn stem gee en opwindend hou. Al is jy vyftien wêreldtale magtig maak Afrikaans jou uniek. Maak ʼn woord jou eie, koop ʼn klank, borg ʼn gedagte, red ʼn sêding, beskerm ʼn skoonheid, beklemtoon ʼn uitroep, noem dit wat jy wil, doen dit net nou!

Oor die toekoms van Afrikaans sê Nataniël: Daar is te min plesier en te veel neurotiese gesprekke oor Afrikaans se voortbestaan. Natuurlik sal dit voortbestaan, geniet dit net!

Jan Braai doen ‘n beroep op elkeen wat al soveel genot, vreugde en samesyn deur braai geniet het om ‘n woord ter ondersteuning van Afrikaans en die WAT te borg. “Raam jou sertifikaat en hang dit bo jou braaiplek (as jy kan) en dit sal jou altyd daaraan herinner dat jy uit dankbaarheid vir die wonderlike ervaring van braai ‘n bydrae tot die ondersteuning van Afrikaans gemaak het.

Deelnemers het tot 28 Februarie 2014 om te kwalifiseer vir die prystrekking vir Sanlam se R25 000 wat op 7 Maart 2014 gehou word. Ander bekendes wat reeds woorde geborg het, is:

Pik Botha: waarheen?
Gareth Cliff: uitsaaikorporasie (geskep deur sy oupagrootjie Gustav Preller)
Koos Bekker: skon (vir sy ma) en plaasboer, douvoordag en noustrop (vir sy pa)
Reinet Nagtegaal: nagtegaal (vir R5 000)
Marie Heese: Vuurklip (vir R5 000)
ATKV: ATKV (vir R5 000)
Petrovna Mettlerkamp: vergewe
Danie van Wyk: kwaksalwer, holderstebolder
Jans en Almari Rautenbach: oulap
vir De Villiers Lamprecht: droommyl
Randall Wicomb: prampoort
vir Erna Meaker: moedertaal, gekskeer, redekawel en Hertzoggie
Johan Krige: Kanonkop (vir R5 000) en brandweervrou
Ander interessante woorde en sinne wat vanjaar geborg is:
Gerhard Grove: Pa se braaiplek
Ilze Holtzhausen-De Beer: rinkink
Karin van Wyk: japsnoet en karmenaadjie
Heleen van der Poel: tonteldoos
Marietjie Koekemoer: kattermaai
Reana Rossouw: plek-plek, elders
Beatrix Kotzé: toetlantern
Heelwat persone het interessante woorde as Kers- of verjaarsdaggeskenke geborg wat nog nie uitgelap mag word nie, maar die volgende kan bekend gemaak word sonder die naam van die ontvanger: dreunlyf, poenankies, pollevink, glasmaker, dolliwarie, onbesuis, jakopoeker.

Klik hier om deel te neem, of bel 021 8873113 of stuur ‘n e-pos na [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.