Jeanne Goosen, vreesloos en geniaal

Jeanne Goosen (Foto: Tessa Louw)

Talle huldeblyke het verlede week ingestroom vir Jeanne Goosen wat op 3 Junie in haar meenthuis in Melkbosstrand dood is. Sy sou in Julie 82 geword het.

“Ek en Jeanne het vir dekades lank ʼn pad geloop,” vertel Lizz Meiring. Meiring het verskeie rolle in Goosen se stukke vertolk. Dit sluit in Kopstukke, die kabaret Nagmerries en die eenvrouvertoning ʼn Mens huil nie oor alles nie / If only we had arsenic. Meiring en Goosen se paaie het gekruis toe sy en die akteur André Stolz ʼn teaterstuk vir ʼn toneelfees benodig het.

“Die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (TRUK) het destyds ʼn Dalro-toneelfees begin,” vertel Meiring. “Ek en André wou inskryf en moes op kort kennisgewing ʼn teks in die hande kry. Ons het een aand by Jeanne se huis opgedaag en gevra of sy iets vir ons kan skryf.”

Goosen het toe Kopstukke geskryf en Stephan Bouwer was die regisseur. Sandra Prinsloo het later jare die regie behartig.

Kopstukke is gegrond op ʼn storie wat Goosen uit haar dae as koerantjoernalis in Pretoria onthou. Dit vertel die verhaal van ʼn egpaar wat na ’n motorongeluk albei parapleë word en in dieselfde bed vasgekluister is. Dit is ʼn komiese stuk wat die konflik tussen man en vrou uitbeeld.

“Ons het min tyd gehad om die dialoog en bewegings onder die knie te kry. Jeanne se storie was dus ideaal,” sê Meiring.

Hoewel Goosen se dood ʼn leemte laat, beskou Meiring dit tog as ʼn bevryding.

“Nou kan sy skep en aanhou skep en skep – sonder die bemoeisiekes, die verbeeldingloses, die bevreesdes, die preutses, die sogenaamde literêre eksperts, die boekresensente, die dommes en domastrantes,” het Meiring in haar huldeblyk aan Goosen geskryf.

Goosen was ʼn gekwalifiseerde radiogravis, sy het ʼn lisensiaat in klavier aan Unisa verwerf, was dol daaroor om vis te vang en besonders lief vir honde. Meiring het dit ook in haar huldeblyk genoem.

“Sy kan nou visvang so lank en soveel as wat sy wil. Sy kan luid klavier speel en nie ʼn oomblik van depressie, vertwyfeling, weerloosheid, veroordeling of angs ervaar nie,” het Meiring gesê.

Jeanne het nooit gesê hoekom sy nie ʼn loopbaan in radiografie gevolg het nie, vertel Prinsloo. Prinsloo was jare lank met Goosen bevriend en het die regie vir verskeie van Goosen se tekste behartig. Sy het ook ʼn rol in Koffer in die kas (1992) vertolk.

Die voorblad van “Wurm” se tweede uitgawe. Dit is deur De Waal Venter geskets (Foto: De Waal Venter)

Verskeie akademici benadruk opnuut Goosen se unieke, soms uitdagende, bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Sy word beskou as een van Suid-Afrika se veelsydigste woordkunstenaars wat ʼn prominente bydrae as skrywer, joernalis, digter en dramaturg gelewer het.

De Waal Venter onthou Goosen as ʼn reguit en eerlike mens.

“Ek het haar geken as ’n baie reguit mens sonder fieterjasies. Sy was nie oormatig vriendelik nie, maar jy het altyd presies geweet waar jy met haar staan. Sy kon darem ook lekker lag vir ’n goeie stuk humor,” vertel Venter.

Venter het in die laat sestigerjare saam met Goosen by die Wurm-tydskrif gewerk.

“Goosen het ’n belangrike rol gespeel met die stigting en publikasie van veral die eerste paar uitgawes van Wurm. Sy was op die redaksie en het gedigte en verhale vir die tydskrif geskryf.”

Die tydskrif is in Pretoria gepubliseer en het vanaf 1966 tot 1970 verskyn. Daar was slegs twaalf uitgawes en die laaste uitgawe is in Februarie 1970 uitgegee.

‘n Gedig deur Jeanne Goosen wat in die derde uitgawe van die Wurm-tydskrif verskyn het (Foto: De Waal Venter)

Wurm was ʼn avant-garde-tydskrif wat ʼn alternatiewe stem in Afrikaans verteenwoordig het – teenoor die sogenaamde “hoofstroom”-groep wat digters soos NP van Wyk Louw, WEG Louw en DJ Opperman ingesluit het.

Die redaksie en medewerkers van Wurm het bestaan uit ʼn groep jong, aspirantskrywers soos Venter en Goosen, asook Phil du Plessis, Marié Blomerus, DPM Botes en Wilma Stockenström.

Venter het vanjaar die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se toekenning vir vertaalde werk ontvang vir Vandag is boordensvol, ’n vertaling van die gedigte van Pablo Neruda.

Goosen het in 1971 gedebuteer met die digbundel ʼn Uil vlieg weg en daarna het Orrelpunte (1975), Elders aan diens (2007) en Het jy geweet ek kan toor (2020) gevolg.

“Goosen se poësie weerspieël van meet af aan ’n ingesteldheid van verset teen die gewone,” meen prof. Bernard Odendaal van die Noordwes-Universiteit en direkteur van die ATKV-skryfskool. Die maatskaplike verset wat dikwels in haar skryfwerk na vore gekom het, kan volgens Odendaal verbind word met Goosen se eie worsteling met depressie.

“Goosen het meermale op aangrypende wyse oor dié tema gedig,” vertel hy.

Odendaal het in Perspektief en profiel: ʼn Afrikaanse literatuurgeskiedenis oor Goosen se digterskap in sy oorsig van die Afrikaanse digkuns tussen 1960 en 2012 geskryf. Hy verduidelik dat Goosen se gedigte politieke, maatskaplike en kerklike pretensie afgetakel het en dat sy die werklikheid van gewone mense vooropgestel het.

Meiring beaam Jeanne se afkeur vir eiewaan.

“Kyk, Jeanne was ʼn baie classy vrou – maak geen fout nie. Maar sy het pretensie gehaat.”

Odendaal beklemtoon dat Goosen se poësie ook deernis en inlewing wek vir die ervaringswêreld van die werkersklasmens, of vir diere. Dié temas word deurgaans in Goosen se skryfwerk aangeraak.

Sy is ook die skrywer van onder meer ʼn Kat in die sak (1986), Ons is nie almal so nie (1990), Drie eenakters (Kombuis-blues, Kopstukke en ’n Koffer in die kas) (1992) en ʼn Pawpaw vir my darling (2002).

Goosen het in 1990 die CNA- en Rapport-prys en in 1991 die M-Net-prys vir Ons is nie almal so nie gewen. In 1992 is Drie eenakters met die Rapport-prys bekroon.

Dolores (Foto: Jeanne Goosen/Facebook)

Die rolprentweergawe van ʼn Pawpaw vir my darling is in 2015 uitgereik. Koos Roets was die regisseur en die fliek is deur André Scholtz vervaardig.

Roets verduidelik dat hy die regte vir die vervaardiging van die rolprent by Kwela Uitgewers gekoop het. Hy onthou dat Jeanne hom op een voorwaarde toegelaat het om die fliek te maak.

“Jeanne het vir my gesê: ‘Koos, jy kan die fliek maak, maar op één voorwaarde. Jy dra die fliek aan my hond, Dolores, op’,” onthou Roets.

Jeanne Goosen: ʼn Lewe vol sinne is ʼn biografie van Goosen. Dit is deur Petrovna Metelerkamp geskryf en vroeër vanjaar deur Hemel & See Boeke uitgegee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae