Jol met skrywers en kenners

Die vierde BoekeJol-fees vind vanjaar van 30 Augustus tot 1 September plaas by die Leriba Hotel in Centurion. Meer as dertig boekbesprekings, aktuele gesprekke, werkwinkels vir jeug en volwassenes en sosiale samesyn word aangebied.

Alle moontlike boekgenres word ingesluit en skrywers van reg oor Suid-Afrika deel in die insiggewende gesprekke. “Daar word jaarliks gepoog om die nuutste boeke en hul skrywers in die program in te sluit,” vertel Dia van Staden, direkteur van BoekeJol.

Die tuin van Leriba Hotel sal ʼn lushof wees waarin die publiek rustig kan verkeer tussen die verskillende gesprekke. Twee restaurante kan besoek word as die honger begin knaag. Reg oor die terrein heen, op die stoepe, sal wyn- en koffiestasies beskikbaar wees.

Gratis parkering vir besoekers is ʼn groot bonus. Die maklike toegang vanaf die hoofweg en selfs die Gautrein maak die rit na die Leriba Hotel ʼn plesier. Daar word verskeie venues op die hotel se terrein aangewend, maar alles is naby mekaar.

Daar word uitgesien na ʼn jeugprogram vir skoliere, onderwysers en ouers. ʼn Omroeperswerkwinkel, Skryfwerkwinkel vir graad 7 tot 11 leerders, ʼn Engelse redenaarswerkwinkel en verskeie aktuele besprekings waaraan deelgeneem kan word, word aangebied.

Dr. Louis Dey bied ook ʼn bespreking oor boelies en die invloed van sosiale media in Engels aan. Derick van der Walt en Carin Krahtz sal met graad 4 tot 7 leerders en onderwysers oor die voordele en pret van lees gesels. Annelien Pienaar, skrywer van Boerekos met ʼn Twist, sal ʼn kosdemonstrasie aanbied en die voorbereiding van ʼn Boerekosblik met ʼn Twist demonstreer.

Fotograwe gaan besoekers inlig oor hul onderskeie kamerawerk en die praktiese neem van foto’s. Die deelnemers sluit Santie Korf, Annemé Beukes, Maryna Cotton en Sarel van Staden in.

Hoërskoolleerlinge kan deelneem aan die skryf van ʼn nuusberig en laerskoolleerders aan die skryf van ʼn limiriek. Kyk na die temas op die webwerf by www.boekejol.co.za. Stuur ʼn e-pos na [email protected] om ʼn registrasievorm vir die nuusberig of limiriek te ontvang. Maroela Media se digkunskompetisie vir oud en jonk is steeds aan die gang en kontantpryse kan gewen word.

Uppercasebooks gaan hul boekwinkel op die terrein opstel sodat elke liefhebber hul gunstelingboeke kan koop voordat die skrywers dit teken.

Die publiek word uitgenooi om saam te kom kuier om boeke, wyn, skrywers, sprekers en intellektuele temas. Kuier op die BoekeJol Facebook-blad by BoekeJol en FilmRolfees en besoek www.boekejol.co.za vir die volledige program.

Gaan na www.tixsa.co.za vir kaartjies of stuur ‘n e-pos aan [email protected] of skakel 071 274 1613 vir kaartjienavrae. Klik hier om jou kaartjies te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.