Jong generasie ontrafel Afrikaans-wees in dié gesprek

Sue Pyler-Slabbert. (Foto: Maroela Media)

Verskeie inisiatiewe is die afgelope paar dekades van stapel gestuur in ʼn poging om Afrikaans as ʼn inklusiewe taal te bevorder. Daar is deurgaans ook gefokus op Afrikaans as taal wat uit Afrikabodem ontstaan het en wat deur ʼn diverse verskeidenheid mense gepraat word.

Al hoe meer sprekers uit ʼn jonger generasie begin ook om die taal op te eien. Hulle beskou dit as ʼn belangrike deel van hulle identiteit en poog om negatiewe konnotasies wat die taal by sommige mag wek, af te skud.

Met die oog op Jeugdag wat jaarliks op 16 Junie gevier word, bied die Afrikaanse Taalraad, in vennootskap met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, op 14 Junie ʼn paneelgesprek aan, met die tema: “Afrikaans-wees: voordeel of dilemma vir Afrikaanse jeug?”.

“Met dié gesprek wil ons erkenning aan die kleurryke en diverse wortels van Afrikaans en sy sprekers gee. Ook aan die positiewe rol wat dit in die Afrikaanse gemeenskap speel,” sê Merlyn van der Rheede, die Afrikaanse Taalraad se noordelike projekbestuurder.

Vrae soos wat dit beteken om Afrikaans te wees of waarop dit neerkom wanneer ons sê taal is deel van ʼn mens se identiteit, en hoe belangrik Afrikaans vir jongmense binne ʼn meertalige konteks is, gaan onder bespreking kom.

Die gesprek, wat deur Sue Pyler-Slabbert gelei word, kyk ook hoe jongmense deur Afrikaans kan floreer, in hoe ʼn mate Afrikaanssprekendes daarin geslaag om die taal as positief en nuttig te herposisioneer, en of die taal nog steeds vir sommige jongmense ʼn dilemma is.

Pyler-Slabbert sal in gesprek wees met Barron Hufkie (eNuus-leser), Christa Steyn-Bezuidenhout (joernalis van Maroela Media) en Roné Wierenga (navorser by die Afrikaanse Taalraad).

Die geleentheid vind op Woensdag 14 Junie om 16:00 by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in Pretoria plaas. Bevestig jou bywoning deur ʼn e-pos te stuur aan Merlyn van der Rheede na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.