Jong navorsers beïndruk by Studentesimposium

(Foto: Mohammad Shahhosseini/Unsplash)

Altesaam 33 nagraadse studente van nege Suid-Afrikaanse universiteite het op 16 Oktober aan die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) se derde Studentesimposium vir sosiale en geesteswetenskappe deelgeneem.

Referate oor 28 vakgebiede is in Afrikaans deur vyf honneurs-, 15 meesters- en 13 doktorale studente gelewer.

Dié simposium onderskraag die oogmerke van die SAAWK deur denkleiers aan te moedig om hul bevindinge in die sosiale en geesteswetenskappe in Afrikaans met ʼn breër gehoor te deel. Hierdie platform het dus ten doel om Afrikaans as hoëfunksie- en akademiese taal op tersiêre vlak te bevorder.

Prof. Linda van Ryneveld, verbonde aan die Universiteit van Pretoria en simposiumorganiseerder, is beïndruk met studente se navorsingswerk en meen hul passie vir die taal is opmerklik.

“Vir my het die feit dat die aanbiedings van hoogstaande gehalte was uitgestaan, tesame met die feit dat almal se passie vir Afrikaans so duidelik deurgeskemer het,” sê sy. “Ek kry die gevoel daar is baie nagraadse studente wat steeds bereid is om by te dra tot Afrikaans as wetenskapstaal.”

Die referaat-vakgebiede het ingesluit antieke tale, toerisme, film, filosofie, geskiedenis, kuns, linguistiek en letterkunde, maatskaplike werk, opvoedkunde, regsgeleerdheid, sosiologie, spraakterapie en teologie.

Zoom, ʼn aanlyn videotoepassing, is ingespan om virtuele simposiumlokale te skep en deelnemers het hul referate per video vir die gehoor lewer. Die gehoor kon ná afloop van die aanbieding vrae stel deur hul virtuele hand op te steek of die vrae in die gesprekshoekie op skrif te stel.

Marí Peté, ʼn e-Leer-deskundige aan die Durbanse Universiteit vir Tegnologie, het die aand se program geopen met die bekenstelling van haar vyfde digbundel Light Travels | Lig Reis: woordskepping om waarhede raak te kan vat.

Die bundel bestaan uit 42 gedigte wat eers in Engels en dan in Afrikaans verskyn. Dit is op so ʼn wyse georden dat die gedigte as’t ware skadubeelde vorm. Klik hier om meer oor Peté se bundel te wete te kom.

Na afloop van die bekendstelling het Van Ryneveld simposiumgangers by die virtuele prysuitdelingsfunksie verwelkom.

Prof. Oppel Greeff, voorsitter van die SA Akademieraad, het die geleentheid gebruik om die organiseerders, tegniese span, studieleiers en studente namens die Akademie te bedank.

Hy het ook jong navorsers geloof vir die hoë gehalte van hul navorsing, puik aanbiedings en uitmuntende taalgebruik.

Greeff doen ʼn beroep op studente om hul studies te voltooi en navorsingswerk voor te lê vir publikasie, veral by een van die Akademie se geakkrediteerde vaktydskrifte.

Hierna het Van Ryneveld die verrigtinge voortgesit en ʼn verskeidenheid pryse oorhandig.

Luan Staphorst is tydens die SA Akademie se derde Studentesimposium as ʼn sessiewenner, sowel as die algehele wenner aangewys (Foto: Verskaf)

Luan Staphorst is tydens die prysuitdeling as ʼn sessiewenner, sowel as die algehele wenner aangewys. Hy het twee referate gelewer, “Ek ken net hierdie Boesmantaal van ons”: Afrikaanse Taalgeskiedskrywing, die |xam-Boesmans, en werkwoorde wat vandoer sit stap en Die wond sê dit aan my: morele fenomenologie onder die |xam-Boesmans, en simposiumgangers boonop beïndruk met voorlesings in Boesmantaal tydens sy tweede aanbieding.

Staphorst is ʼn Mandela Rhodes-beurshouer, Abe Bailey-genoot, en uitvoerende lid van die Nasionale Taalliggaam se Engelse afdeling (onder PanSAT). Hy is ook verbind aan die Leerstoel: Kritiese Studies in Hoëronderrigtransformasie (CriSHET) aan die Nelson Mandela Universiteit.

Anzel van Rensburg (NWU) en Michelle Oelofse het spesiale vermelding vir hul onderskeie referate, Die problematiek van manlike aanskoue en objektivering van die vrou in die musiekvideo’s Hoe Lykit (2016) en Potte (2018) en Internasionale verbruikerbeskerming: Hoe word die Suid-Afrikaanse verbruiker beskerm?­, ontvang. Van Rensburg het ook die prys vir gehoorgunsteling gewen.

Buiten Staphorst, Van Rensburg en Oelofse is die volgende persone ook as sessiewenners aangewys: Johannes Strauss (US), Earl Basson (US), Paul Maritz (NWU) en Shani Viljoen (US). Karina Sevenhuysen het met haar aanbieding oor die skematiese en visuele voorstellings van die konsepte “model swart woonbuurt” en “paternalisme” die prys vir beste taalgebruik ontvang.

Deelnemers is vooraf aangemoedig om hul Afrikaanse nuutskeppings in te stuur, waarna prof. Heinrich Ohlhoff, leier van die nuutskeppingskomitee, saam met ʼn span kundiges die inskrywings beoordeel het.

Ohlhoff het tydens die prysuitdeling konstruktiewe terugvoer gegee en studente gemaan om weldeurdag met sogenaamde nuwe woorde om te gaan.

“Sommige terme was ondeursigtig, dit bestaan reeds of word as leenvertalings beskou,” het hy verduidelik. Hy het egter laat blyk dat dit ʼn aangename taak was om deur die inskrywings te werk.

paul-maritz

Paul Maritz, is die hoof van Solidariteit Jeug. (Foto: Verskaf)

Maritz, ’n meestersgraadstudent in teologie aan die Noordwes-Universiteit en bestuurder van Solidariteit Jeug, het die nuutskeppingsprys gewen vir “maskermaniere” (definisie: Die nuwe maniere wat ons aangeleer het as gevolg van die dra van maskers. Tipies sou vrouens se besluit oor lipstiffie of manne se besluit om te skeer verander as gevolg van maskers, en hierdie nuwe maniere is maskermaniere), “Covid-kleptomanie” (definisie: Regeringsamptenare se impulsiewe en onbeheersde diefstal van Covid-hulpfondse) en “E-tiket” (die etiket wat ons tydens e-vergaderings openbaar, soos om ons mikrofone te deaktiveer terwyl iemand anders op Teams, Zoom of Skype praat).

Engelette Kruger (UP) het die tweede plek behaal en Oelofse het hier ook spesiale vermelding ontvang.

Maritz het in ʼn onderhoud met Maroela Media die SA Akademie geloof vir ʼn puik simposium en sy waardering uitgespreek vir hul bydrae tot die ontwikkeling van jong navorsers.

“Die SA Akademie staan nie net rond en kritiseer nie, hulle kweek die volgende generasie denkers en navorsers met programme soos hierdie Studentesimposium,” sê hy.

Oor Solidariteit Jeug se betrokkenheid by die simposium is Maritz ewe opgewonde. “Solidariteit Jeug wil natuurlik aan jongmense hulp en bystand verleen op hul pad na hul beroepe, en dit sluit jong akademici in. Ons kon dus nie anders as om opgewonde deel te word toe die SA Akademie ons in 2019 gekontak het nie.”

Maritz sê die organisasie hoop om vir baie jare nog by dié inisiatief betrokke te wees.

Die SA Akademie het reeds bevestig dat volgende jaar se Studentesimposium vir sosiale en geesteswetenskappe op 22 Oktober aangebied word. Hou die organisasie se webwerf of Facebook-blad dop vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae