Jongste voorsitter van GHA verkies

Pieter Oosthuizen (links) en Sakkie Kotze van die ATKV Foto: verskaf

Pieter Oosthuizen (links) en Sakkie Kotze van die ATKV Foto: verskaf

Pieter Oosthuizen (27) is as voorsitter van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans verkies.

“Hy is dalk die jongste persoon nog ooit wat by ʼn Afrikaanse kultuurorganisasie tot voorsitter verkies is,” het Sakkie Kotze, voorsitter van die ATKV Centurion, in ʼn verklaring gesê.

Oosthuizen het boonop 10 jaar gelede, in 2005, as matrikulant ‘n ATKV-toekenning van Kotze ontvang vir sy puik taal- en kultuurprestasies op skool. Sy Afrikaanse toneelspel en die digbundel wat hy en twee klasmaats gepubliseer het, het wye belangstelling, gelukwense en erkenning in die media geniet. Hy het toe ‘n ATKV-prestigepenning ontvang en Kotze het hom en sy twee maats genooi om dieselfde jaar by hul ATKV-kultuurdag in Pretoria van hul gedigte te kom voorlees. Hul kultuurprestasie as skoolseuns het groot waardering by ATKV-lede landwyd en die breë publiek ontlok.

Oosthuizen het die B Tech-graad in Filmstudies en Draaiboekskryf aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) verwerf. Hy is tans besturende direkteur van die maatskappy, MadRobot.

Die 90ste herdenking van Afrikaans as amptelike taal is ook tydens die Jaarvergadering herdenk waar Oosthuizen verkies is. By dieselfde geleentheid het hy namens die GHA-direksie, ‘n GHA-toekenning aan Kotze oorhandig vir sy jarelange bevordering van die Afrikaanse taal- en kultuur in die onderwys en georganiseerde kultuurlewe. Kotze is al sedert 1979 voorsitter van ATKV Centurion. Die tak is sedertdien nog steeds bykans elke jaar by die ATKV se AJV as een van die aktiefste takke in die land aangewys a.g.v. hul volgehoue, dinamiese taal- en kultuurprojekte wat al vele nasionale mediadekking en TV-uitsendings geniet het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.