Jou teks dalk by kunstefees opgevoer

Sandra Prinsloo en John Kani in “So ry Miss Daisy” by die Fugard-teater in Kaapstad Foto: Maroela Media

Skrywers word aangemoedig om hul tekste of idees vir tekste nou in te dien vir kunstefeeste, teaters en ander beleggers vir moontlike verdere ontwikkeling.

Alle skrywers kan nou hul voorstelle vir Kunste Onbeperk se tweede Teksmark indien. Teksmark stel ten doel om nuwe Suid-Afrikaanse tekste te ontwikkel en word in samewerking met die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) en die Baxter-teatersentrum aangebied.

“Teksmark is nie ’n kompetisie nie, dit is ’n mark vir nuwe tekste,” verduidelik Hugo Theart, kreatiewe hoof van Kunste Onbeperk. “Die mark bied ’n geleentheid aan skrywers om oor hul teksidees te gesels en ons hoop dat verteenwoordigers van feeste, teaters, vervaardigers en borge dan ook belê in die ontwikkeling van skrywers en hul tekste, sodat dit uiteindelik as produksies aangebied kan word.”

Skrywers se voorstelle word deur ’n paneel geëvalueer en ’n aantal tekste word gekies om op 11 en 12 September 2017 by Teksmark voor te lê. Dié skrywers kry ’n geleentheid om hul teksidees te bespreek en ’n kort uittreksel word as leesteater aangebied. “Die vereistes vir voorstelle is juis só dat dit nie noodwendig volledige tekste hoef te wees nie. Gedeeltelike tekste, wat verder ontwikkel kan word, kan ook ingedien word,” voeg Theart by.

“Verlede jaar is 14 tekste gekies om by Teksmark voor te lê. Een van die tekste, Melk en vleis deur Marina Albertyn, wat in 2016 by die eerste Teksmark voorgelê is, word deur die Aardklop Nasionale Kunstefees ontwikkel, met ander tekste wat deur die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en ander kunstefeeste vir ontwikkeling in 2018 oorweeg word.

Volgens Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi, het hulle besluit om by Teksmark betrokke te bly, vanweë verlede jaar se sukses. “Almal wat verlede jaar daar was, kan getuig van amper magiese oomblikke wat afgespeel het. Kunste Onbeperk het met dié projek ’n groot leemte in die bedryf geïdentifiseer en is besig om daadwerklik iets te doen om dié leemte te vul. Almal wat ’n belang in teater het, vind baat daarby.”

Faasen sê dit is ook ’n geleentheid vir rolspelers in die bedryf om buite die normale siklus van aansoeke, keuring en finansiële druk, bymekaar te kom en in die opwinding van nuwe tekste en idees te deel. “Skrywers moet hierdie geleentheid aangryp,” sê sy.

Lara Foot, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die Baxter-teaterkompleks, sê hulle is opgewonde om weer hierdie dinamiese en noodsaaklike inisiatief by die Baxter-teatersentrum aan te bied. “Ons het ’n verantwoordelikheid om uitsonderlike skrywers en tekste te identifiseer, werk van gehalte te ontwikkel en ten toon te stel. Teksmark is ’n lewendige, opvoedkundige en verrykende ervaring vir al die betrokke partye en ek sien uit na die nuwe oes wat dié jaar gaan bring,” sê sy.

Teksvoorstelle moet voor Maandag, 3 Julie 2017 om 12:00 per e-pos aan Theart by [email protected] ingedien word. Voorstelle moet die titel van die teks, ’n uiteensetting van die inhoud en karakters en ’n tematiese konteks insluit. Hoewel volledige tekste verwelkom word, is opvoerbare uittreksels van ten minste tien minute die minimumvereiste. Enige navrae in die verband kan ook aan Theart gerig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.