Video: Jy kan ʼn verskil maak (en dit kos jou niks nie!)

Foto: Pixabay

Onderwysers, prokureurs, dokters, verpleegsters, sangers, rekenmeesters, skrywers, sielkundiges, skakelbeamptes, die lys van beroepe is lank en veral in die moderne era waar al hoe meer entrepreneurs na vore tree is daar selfs nog meer beroepe om van te kies. Die ewigdurende veranderlike tegnologie maak ook dat nuwe kennis gedurig geskep word op verskillende terreine.

Ons skoolgaande kinders en studente is afhanklik van die internet as hul inligtingsbron om hul navorsing te kan doen vir take. Tegnologie laat dit toe dat almal dadelik toegang het tot inligting met verskillende opsies daarby om feite en menings te staaf. Toe ons kinders was, moes ons beurte maak om dieselfde boek in die biblioteek uit te neem, maar vandag kan ons kinders in ʼn oogwink die inligting bekom wat hulle nodig het, sonder om in ʼn ry te staan en vir die bibliotekaresse te wag om fotostate te maak.

Ons ouers is besig. Besig om te werk, besig om ʼn toekoms te bou vir ons kinders, besig om vas te sit in die verkeer – wanneer jy jou kind oplaai by die naskool en dan nog hoor jy moet help met ʼn taak, sak ʼn mens se moed sommer in jou skoene.

Dit is ʼn ewige gesif tussen inligting en die vertaling daarvan om dit verstaanbaar te maak vir jou kind (omdat meeste artikels slegs in Engels beskikbaar is).

Wikipedia bied ʼn uitstekende oplossing en van die artikels is reeds in Afrikaans beskikbaar. Wanneer dit met ander tale vergelyk word, skiet ons egter nog ver tekort, wat die getal artikels betref.

Die nalatenskap vir ons kinders is in ons hande. Die kennis wat hulle nog in hul lewens moet opdoen is eindeloos. In ʼn wêreld van ʼn magdom kennis wil ons hê ons kinders moet dit in hul taal kan opdoen.

In jou beroep het jy al ervaring opgedoen, jou eie menings gevorm, gevolgtrekkings gemaak, terminologie aangeleer en persepsies gevorm. Deel jou kennis vandag nog! Kom in die gewoonte om gereeld ʼn bydrae te maak op die Afrikaanse Wikipedia. Só kan ons mekaar se artikels verbeter en aanpas en toesien dat die Afrikaanse Wikipedia die mees betroubare inligtingsbron is vir oud en jonk om te gebruik.

As jy gedink het dit is net vir akademici bedoel om artikels te publiseer, dink weer. Dit is ons elkeen se plig om die leemtes te vul en te sorg dat ons virtuele biblioteek oorlaai word met kosbare inligting.

Dié video wys vir jou presies hoe maklik dit is om ʼn artikel op te laai. Registreer vandag nog as ʼn gebruiker op https://af.wikipedia.org/wiki/Tuisblad en deel jou kennis.

Volg dan bloot die maklike stappe soos dit in die video uiteengesit is.

Drome is die ware vertolkers van ons neigings, maar kennis is nodig om hulle te vertolk en te verstaan. ~Michel de Montaigne

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Griet ·

Alles goed en wel. By die meeste Hoërskole in Pretoria (Afrikaanse Hoërskole, soos Affies, Garsfontein, en vele ander) word Wikipedia ONDER GEEN omstandighede as bron aanvaar wanneer navorsing vir take gedoen word nie.

Charles ·

Mmm…dis interessant Griet- nie geweet nie, was DUIDELIK onder die verkeerde indruk. Verdermeer is Wikipedia besmet met die kiem wat ons hedendaagse liberalisme en linkse vooroordeel noem, en bykomend tot ander redes(s) wat daar mag bestaan, is dit daarom miskien nie die beste idee om dit as bron te gebruik nie.
Ek verstaan egter eerder die mikpunt v/d artikel as synde te wees om Afrikaans se reikwydte en teenwoordigheid op die net te verhoog- maar vir daardie doel kan mens (as jy regtig wil-EN ONS KAN!) eweseer gebruik maak van die Hollandse Wikipediablad blad.

Mickey ·

Dit is sekerlik so maar ek is mal oor wikipedia, het al tot olies gemaak van rou produkte met wikipedia se hulp (die engelse een).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.